Bosveldstreekkonferensie uit boonste rakke

Illana Venter
Die VLU se 25ste Bosveldstreekkonferensie, aangebied deur die lede van die Beauty-tak, is Woensdag 11 Maart by Bordeaux Game Farm naby Marnitz gehou.

Dié feestelike geleentheid het saam met die streek se 25ste verjaarsdag geval en ’n pragtige koek, soos net die vroue van die VLU kan bak, is voorgesit.  

Ds Lana van Rensburg het die konferensie geopen met die boodskap: As jy nie opdaag nie is jou plek leeg. Jy is geroep om hier te wees sê die Here. Soos Paulus sy plek moes volstaan nadat God hom aangestel het – hy het nie geskroom om te doen waarvoor God hom geroep het nie. Ons is geroep om mense te dien, iemand het vandag jou glimlag nodig. Hierdie is ’n ontmoetingsplek deur God gereël, gee jou energie vir ander.

Maritsa Jacobs, voorsitter van die Beauty-tak, het almal verwelkom en Ria Strydom, voorsitter van die Bosveldstreek, het die gaste bekendgestel. Marika van Zyl van die Ellisras-tak het die huldeblyk-kers vir wyle Carla Kruger opgesteek. Sy was ’n lid van die Ellisras-tak.

Leanda le Cornu, VLU-Noord-president, het die amptelike opening behartig en groeteboodskappe was oorgedra.

Die VLU-Noord se Kunstenaar van die Jaar, Erika van Zyl, het saamgekuier en haar storie, vandat sy begin skilder het tot nou, gedeel. Sy herinner die dames dat dit nie saak maak hoe klein jou droom is nie, koester dit tot ’n werklikheid. As jou droom jou bang maak, doen dit vinnig.

Gerrie Jordaan, gasspreker, verduidelik hoe Rooikappie se storie vandag toegepas kan word. “Ons moet leer om beter te kan sien en hoor”. Sy verduidelik wat dit beteken om ander en jouself te koester en bewaar. “Pas daarom jou hart en lewe op. Giving is the rent we must pay for the space we occupy in this world,” het sy afgesluit.

Groot opgewondenheid het geheers met die prysuitdeling en trofee-oorhandiging en met die kies van nuwe bestuurslede.

Trofee-wenners:
 Lid met die meeste artikels wat pryse gewen het – Mari Meintjies, lid met die hoogste totaal in streekartikels – Altie van der Linde, lid met die hoogste totaal in provinsie-artikels – Altie van der Linde, lid met die hoogste totaal – Altie van der Linde, lid met die mees verdienstelike artikel – Lorraine Frost met 92%.

Wen-tak – Beauty, top-tak – Northam, top-skakelbeampte – Adele Engelbrecht van Beauty.

Nuwe dagbestuur van Bosveldstreek:
Voorsitter: Riana Oosthuizen, vise-Hardekoolkring: Maritsa Jacobs, vise-Tambotiekring: Gerda Smit, sekretaresse: Desré Janse van Vuuren, tesouriere: Erica Welgemoed, skakelbeampte: Ilana Venter en beoordeelaarsameroepster: Joan Beukes.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.