Brand by Graphica Printing

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die ontvangslokaal en ‘n deel van die kombuis van Graphica Printing in die ligte industriële gebied in Lephalale het verlede Woensdagaand onverklaarbaar aan die brand geslaan. Volgens Chris Loretz, eienaar, het ‘n veiligheidswag sy dogter Woensdagaand rondom 11:25 gebel om vir haar te sê van die brand, maar sy was in Pretoria. Sy het vir Chris laat weet.
Die wag het die rook wat uit die gebou trek van Laeveld Busdiens se kant af gesien en ondersoek ingestel. Hy het oor die muur gespring en toe hy sien wat aangaan, dadelik die brandweer ontbied. Volgens Chris was hulle blitsvinnig op die toneel. Teen 00:20 was alles weer onder beheer.
Chris sê hulle het geen idee waarom die brand ontstaan het nie en behalwe vir die brandskade het hulle ook groot waterskade ná die blus van die brand.
‘n Saak van brandstigting is by die polisie geopen.
Chris bedank almal wat opgedaag het om te help om die brand te blus. “Dankie vir almal se boodskappe ter ondersteuning, baie dankie. Ellisras en sy mense – julle weet hoe om ‘n mens staande te hou” sê Chris.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.