Brandblusserbedrog

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Onbekende man in ‘n wit Toyota bakkie het verlede Donderdag tussen 12:00 en 13:00 by die besigheid RMS opgedaag en vir een van die werkers gesê die bestuurder van die maatskappy, Rika Esmereldo, het gesê hy moet die brandblussers diens en vervang.
Volgens Rika was sy nie Donderdag by die werk nie en die werker het die man laat voortgaan. Dit was die laaste sien van die brandblussers.
Rika sê hulle het ongelukkig nie die registrasienommer van die voertuig nie, maar ‘n saak van diefstal is by Lephalale Polisie geopen.
Volgens Rika het dieselfde man dieselfde truuk probeer by Sanitech in Lephalale. Martelize Pieterse van Sanitech het aan Mogol Pos bevestig dat die man reeds besig was om die blussers af te haal en toe sy vir hom vra wat hy doen het hy gesê die blussers moet gediens word. Hy het ook vir haar ‘n geskrewe kwotasie gegee. Sy het egter vir hom gesê hulle sal nie van sy diens gebruik maak nie.
Mogol Pos het die nommer geskakel wat op die plakker verskyn wat die verdagte op die blussers geplak het. Dit is inderdaad die nommer van ‘n maatskappy in Pretoria wat brandblussers diens.
Adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n diefstalsaak geopen is vir die twee brandblussers by RMS.
Volgens Nic du Toit, Brand en Nood Risikobestuurder by Medupi Kragstasie, mag geen brandblusser van ‘n perseel verwyder word indien dit nie tydelik vervang word met ‘n ander een nie. Enigiemand met inligting oor die verdagte kan adjudant-offisier Bert Haasbroek skakel by 084 644 9001.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.