Bravo vir Binnelandse Sake

LEPHALALE — Wilma Lordan van Baltimore kon haar oë nie glo toe sy sien haar paspoort is gereed om af te haal by Lephalale se Binnelandse Sake-kantoor nie. “Uitstekende diens ten spyte van geweldige werksdruk wat die personeel daagliks ervaar,” sê sy.
“My paspoort het verval en ek het dit amper te laat besef. Ek is Dinsdag 16 Januarie na Binnelandse sake om aansoek te doen vir ʼn nuwe paspoort. Ek het vir hulle gesê dit is dringend, maar my stoutste verwagtinge is oortref toe ek Donderdagoggend om 11:05 ʼn kennisgewing op my selfoon kry dat my paspoort gereed is om af te haal,” sê Wilma.
Sy het haar paspoort Vrydag gaan haal en die vriendelike en behulpsame personeel met kolwyntjies en ’n skriftelike bedanking verras.
Sy sonder Roelien en Puleng Phooko, die bestuurder, uit vir hulle besondere behulpsaamheid en sê sy het dit baie waardeer dat Phooko haar na sy kantoor genooi het om dankie te sê vir die koek en skriftelike bedanking.
Dit is nie die eerste keer dat Mogol Pos deur mense gekontak word om Binnelandse Sake se diens te komplimenteer nie. Die koerant het ook voorheen briewe ontvang en gepubliseer van tevrede kliënte wat blitsvinnig gehelp is.
Sover Mogol Pos kon vasstel was dié uitsonderlike diens vinniger as die vinnigste aangetekende geval in Centurion in Pretoria (drie dae).
Deel asseblief julle ervaring by Binnelandse Sake se Lephalalekantoor met Mogol Pos en stuur ʼn e-pos na sub@mogolpos.co.za of mogolpostlephalale@gmail.com.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.