“Bravo” vir Bravo Jeug

LEPHALALE — Bravo Jeug het Donderdagaand 19 April tydens ʼn kaas en wyn-geleentheid by Hoërskool Ellisras se lapa die organisasie se vriende en ondersteuners bedank en 2017 se hoogtepunte gevier.

Die span wat die leisels van Bravo Jeug bymekaar hou is v.l.n.r.: Esmie van Greunen (direkteur), Diana du Preez (berader), Corlé Gerber (maatskaplike werker), Petro van der Walt (maatskaplike werker en spanbestuurder) en Elmé en Johann Young (direkteure)

Johann Young, voorsitter en direkteurslid van Bravo Jeug, het almal verwelkom.

“Die feit dat julle vanaand hier is, beteken julle is vennote van Bravo Jeug. Ons wil graag met julle deel wat ons bereik het en waarheen ons graag wil gaan, tog droom ons altyd om meer en groter dinge te bereik,” het hy gesê.

Young het gesê Bravo Jeug se hartklop is om kinders in ʼn gebroke omgewing te help en hy het die dwelmgebruik onder kinders in die gemeenskap beklemtoon.
“Die geleentheid is daar vir my en jou om ʼn verskil in ʼn kind se lewe te maak en die geleentheid word geskep deur Bravo Jeug,” het Young gesê.
Hy het deur middel van ʼn skyfievertoning aangedui dat daar ʼn wesenlike toename in Bravo se inkomste is sedert verlede jaar. Die fondse word meesal aangewend om die personeel se salarisse te betaal en lokale vir terapie uit te brei en “kindervriendelik” te maak. Daar is tans vier permanente en baie bekwame vroue in diens van Bravo wat hoofsaaklik werk doen by Laerskool Bosveld Primary, Laer- en Hoërskool Ellisras en Mabalane Seleka Technical School. Hulle is Corlé Gerber (maatskaplike werker), Petro van der Walt (maatskaplike werker), Hannelie Christie (opvoedkundige sielkundige) en Diana du Preez (berader). Petro is ook die spanbestuurder.
Young het aangedui dat hulle graag in meer skole in die omgewing betrokke sou wou wees, maar dat hulle fondse daarvoor benodig. Bravo is ʼn nie-winsgewende organisasie en hulle oorlewing is gebaseer op die fondse wat hulle ontvang.
Die tipiese uitdagings waarmee die personeel van Bravo op ʼn daaglikse basis te doen kry is onder meer trauma, selfskending, dwelms, materiële behoeftes, boelies, geweld in gesinne en depressiewe ouers en kinders.
Die tweede belangrike aspek waaraan Bravo aandag gee, is jeugontwikkeling en wel deur hulle lidmaatskap by die International Leadership Academy (ILA). Die eerste Bravo Jeug ILA was in Oktober 2016 aangebied en 30 graad 8-leerders van Mabelane Seleka, Hoërskool Ellisras en Phegelego Secondary School het die akademie bygewoon. 24 uit die 30 leerders het hulle gemeenskapsprojekte (ʼn vereiste om deel van die akademie te bly) sukesvol voltooi.
Young het die belangrikheid van die ILA bespreek en gesê: “as jy leiers beïnvloed, beïnvloed jy ʼn skare”.
Die byeenkoms is afgesluit deur die oorhoofse doel van Bravo Jeug uit te wys – “Bravo wil seker maak kinders oorleef in ʼn baie veeleisende wêreld daar buite deur hulle geestelik, fisies en emosioneel by te staan en te onderrig”.
Enigiemand wat belangstel om Bravo Jeug in watter wyse ook al te ondersteun, kan Johann Young skakel by 083 326 0124.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.