Breinvliesontsteking eis kind

Roelf Uijs is Dinsdagoggend vroeg oorlede nadat hy Meningococcal Meningitis opgedoen het
Roelf Uijs is Dinsdagoggend vroeg oorlede nadat hy Meningococcal Meningitis opgedoen het

Leoni Kruger
LEPHALALE — Roelf Uijs (12), ‘n leerder van Laerskool Bosveld Primary, is Dinsdagoggend in die vroeë oggendure in die Muelmed-hospitaal in Pretoria oorlede nadat hy die dodelike siekte Meningococcal Meningitis opgedoen het.
Volgens dr. Hester Stander, saam met wie Roelf en sy ma, Katrien, Maandagoggend Pretoria toe gery het, was sy simptome aanvanklik glad nie tipies van Meningococcal Meningitis nie. “Die simptome was soos dié van ‘n erge sinusinfeksie” sê sy.
Roelf het Sondag antibiotika gekry nadat hy van hoofpyn gekla het en hy is huis toe. Volgens dr. Stander het Roelf se een oog later begin swel en sy ouers het hom weer Mediclinic toe geneem waarna hy opgeneem is. Vroeg Maandagoggend is hulle saam met dr. Stander na Muelmed waar ‘n breinskandering aangedui het dat ‘n sinusabses in sy oogholte gebars het en dit na die breinvog versprei het.
Volgens dr. Stander en dr. Landman is baie mense draers van dié dodelike siekte. Die kiem bly egter dormant in die neus totdat iets dit aktiveer. In Roelf se geval waarskynlik die sinusinfeksie.

Simptome

Tipiese simptome van Menin-gitis (breinvliesontsteking) is ‘n geweldige hoofpyn, nekstyfheid, naarheid en braking, ‘n veluitslag en koors.
Die simptome kom nie noodwendig almal voor nie en lesers word aangeraai om ‘n dokter te besoek in geval van ‘n volgehoue hoofpyn of enige bogenoemde simptome. Enkeldosis-tablette is by die dokters beskikbaar.

Dr. Landman sê ouers moet daarop let dat indien ‘n kind se verkoue na 48 uur nog nie beduidend opgeklaar het nie, die kind ‘n dokter moet sien. Beide dokters sê dat dié siekte slegs aangesteek kan word indien daar direkte kontak met die pasiënt was. Dit kan nie aangesteek word indien jy met iemand in aanraking kom wat met die pasiënt in aanraking was nie. Direkte kontak word gedefinieer as “jy binne vier meter van die pasiënt was”.
Die inkubasietydperk wanneer simptome sigbaar kan word is vanaf een tot tien dae en die besmette persoon kan reeds ander mense aansteek sowat drie dae voordat hy/sy self simptome toon.
Mense wat dus vanaf Donderdag met Roelf in aanraking was moet spoedig ‘n dokter besoek om ‘n voorskrif te kry vir voorkomende behandeling. Slegs ‘n enkeldosis is nodig.
Teen druktyd was daar slegs een bevestigde geval (Roelf) van die siekte in Lephalale en dit word slegs geklassifiseer as ‘n uitbraak van die siekte wanneer twee gevalle bevestig is. Meningococcal Meningitis is ‘n aanmeldbare siekte en dus dodelik.
Volgens dr. Stander was verteenwoordigers van die Limpopo departement van gesondheid reeds by die hospitaal om sekere voorsorgmaatreëls te tref en hulle neem die voorval baie ernstig op.
Louwtjie Pretorius, skoolhoof van Laerskool Bosveld Primary, was Dinsdagoggend verslae oor Roelf se afsterwe. “Die skool is in rou. Hy was ‘n ster-leerder en oral betrokke en baie gewild. Mens gaan hom oral mis” het hy gesê.
Uit respek vir hulle verskriklike verlies is Roelf se ouers, Briers en Katrien Uijs, eienaars van Madidinkwe Guest Villa, nie gekontak vir kommentaar nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.