Broodknippies beteken rolstoele

LEPHALALE — Die VLU se broodknippieprojek maak reeds ʼn groot verskil in mense se lewens. Twee rolstoele is verlede week deur Ria Strydom, voorsitter van die VLU Bosveldstreek, aan mense oorhandig.

Maar hoe gebeur dit dat broodknippies rolstoele kan koop?

Ria verduidelik: “ʼn Polistireenverpakkings-maatskappy in Suid-Afrika het die projek begin. Broodknippies word gemaak van hoëdigtheid polistireen wat baie goeie herwinningsmarkwaarde het. Fabrieke betaal om van die herwinde polistireen te kry en dit word gebruik om artikels te vervaardig soos saadbakkies, fotorame, tuinmeubels en klerehangers. Fabrieke soek herwinde polistireen om mee te werk, want dit gebruik minder elektrisiteit as sekere ander materiale.

Die VLU maak die broodknippies bymekaar en lewer dit aan die Groplast-herwinningsaanleg in Randfontein. Dit word daar gesmelt en in blokke gegiet wat die fabrieke weer by hulle koop om hulle artikels mee te vervaardig.

“Ons werk nou saam met die Interwaste-herwinningsmaatskappy wat saam met die kwadruplegiese verening van SA werk sodat die regte rolstoel aan elke ontvanger voorsien word.

ʼn Rolstoelvervaardigingsmaatskappy werk ook saam om toe te sien dat elke rolstoel wat geskenk word in ʼn goeie werkende toestand bly.

Die broodknippieprojek het nou ook uitgebrei na Japan, Australië en Kanada – hulle maak die broodknippies bymekaar en stuur dit vir dit VLU in Suid-Afrika.

50 kg broodknippies is genoeg om vir een persoon ʼn rolstoel te gee.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.