Buen Camino

LEPHALALE — Rinske Loubser, Christa Le Roux, Joey Basson, Wilma Janse van Rensburg, Louise Schönfeldt en Ingenie Nel is nie noodwendig boesemvriendinne nie. Ook nie huisvriende nie. Hier en daar ’n familielid. Hulle was goeie kennisse tussen 45 en 64 jaar oud wat onlangs besluit het om die nou reeds beroemde Camino in Spanje te gaan stap.

V.l.n.r.: Ingenie, Louise, Rinske, Wilma, Christa en Joey

“Dit was tyd om iets uitdagends te doen,” sê hulle.

Die minimum afstand wat gestap moet word voordat ʼn sertifikaat ontvang kan word is 118 km, maar hierdie dapper dames het die Franse roete van 580 km gestap wat by Sarria afskop en by Santiago de Compostela eindig. Volgens Rinske was hierdie staptog baie meer uitdagend as wat hulle gedink het en hulle moedig voornemende Camino-stappers aan om maar eers bietjie te oefen voordat die roete aangepak word.

“Moet asseblief nie nuwe tekkies aantrek nie. Loop jou nuwe paar so vir ʼn maand in om blase aan jou voete te voorkom. Pak genoeg pleisters, binnesole en goeie kouse in! Leer ook ʼn paar Spaanse woorde soos brood, dankie, hallo en bier (dis goedkoper as Coke) en dan die bekende groet: buen camino vir mede caminostappers.”

Maar ten spyte van die op- en afdraendes, gelykpad deur plattelandse dorpies en deur plase is dit ʼn onbeskryflike ervaring wat volgens hulle bewustelik met al jou sintuie ervaar en beleef moet word, want anders gaan kosbare dinge op dié pragroete by jou verby.

Elkeen het met ʼn eie idee en missie gegaan, maar was baie ingestel op hul stapmaats en het kosbare dinge met mekaar kon deel en hegte hartsvriende geword na dié epiese tog. Volgens hulle het hulle besef dat ʼn mens tot baie meer in staat is as wat jy dink, veral as jy verder as jou vermoëns gedruk word. En dat vrouens sterk is!

“Ons het elkeen iets positiefs met ons teruggebring na Suid-Afrika wat ʼn mens met nuwe oë na sekere dinge laat kyk – die gras is nie altyd noodwendig groener aan die anderkant van die draad nie”. Hulle beveel ook aan om die staptog rustig teen so 15 km per dag te stap. Dit is ook raadsaam om deur agente te werk. “Ons slaapplekke was pragtig skoon. Hulle sorg dat jou bagasie betyds by jou volgende bestemming is. Geen spanning of stres. Jy arriveer en slaap!”

Volgens Louise, wat die reëlings getref het, is September die beste tyd van die jaar as jy die Camino wil stap.

Hierdie ses dames sê hulle was “kruppel” gelag en tussen hulle was ʼn fantastiese kombinasie van persoonlikhede wat na vore gekom het. Sorg dus dat jy jou stapvriende “reg” kies, is hulle raad.

Buen Camino!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.