Burgemeester en ma

Marlene Vermaak van Staden
Marlene Vermaak van Staden

Leoni Kruger
VAALWATER — Marlene Vermaak van Staden van Vaalwater het verlede week nasionale nuus gehaal toe sy as Burgemeester van Modimolle (Nylstroom) en Mookgophong (Naboomspruit) aangekondig is. Die areas wat hierby ingesluit word is Phagameng, Pomolong, Roedtan, Thusang, Vaalwater, Alma en Lesideng. ‘n Hele mondvol.
Marlene en Hannes van Staden, haar man, het sowat twee maande gelede vir die eerste keer ouers geword. Marlene sê dié burgemeesterskap het miskien nie vir haar op presies die regte tyd gekom nie, want Luan is net twee maande oud, maar dit wys vir haar dat mens se eie planne en die Here s’n nie altyd dieselfde is nie.
Marlene was vir die grootste gedeelte van haar laerskoolloopbaan in Vaalwater en haar hele hoërskoolloopbaan in Hoërskool Nylstroom. ‘n Bosveldnooi in murg en been.
Na matriek studeer sy B.Com by Tukkies waarna sy haar B.Com Hons deur Unisa doen. Sy verwerf ook haar Nagraadse Onderwyssertifikaat. Hierna werk sy vir meer as twee jaar in Engeland as restaurantbestuurder.
Na die rondrits in Engeland is sy onderwyser in Vaalwater en deeltyds joernalis.
Marlene sê sy was nog altyd baie uitgesproke oor politiek en sy het altyd daarin belanggestel. Die VF+ het haar etlike jare gelede al genader om betrokke te raak, maar sy sê sy was beslis daaroor dat sy slegs by die DA sal aansluit indien sy as raadslid staan. Haar passie vir mense en die feit dat sy iets wil beteken vir die gemeenskap en die omgewing is die grootste dryfveer agter die burgemeesterskap.
Sy reken haar grootste uitdaging gaan wees om al die probleme van die verlede uit te sorteer en om so vinnig as moontlik ‘n sigbare verskil te maak aan byvoorbeeld die vullisprobleem, onwettige stortingsterreine en die rioolplaas in Vaalwater waar daar tans rou riool in die Mogolrivier loop.
Haar aanstelling het saamgeval met Vrouemaand. Wat beteken vroue in leierskapsrolle vir haar? “Ek sien myself geensins as feminis nie, maar ek dink wel vroue is geneig om meer diplomaties en minder opvlieënd te wees. Ek dink wel ook vroue het ‘n gawe om beter met mense te werk as mans”.
En natuurlik is Hannes breëbors van trots oor Marlene se aanstelling.
Marlene bedank elke lid van die publiek wat haar besoek het, boodskappe gestuur het of gebel het – “ek waardeer elkeen se gelukwensing”.
Sy vra die inwoners om nie moed op te gee nie – “daar sal wel veranderinge wees, en dit sal sigbare veranderinge wees”.
Sy is baie seker van een ding – as sy werk gaan sy 100% werk en as sy ma is vir Luan gaan sy dit ook 100% doen.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.