Bus bots in bakkie

20160518_073510

Leoni Kruger
LEPHALALE — Randolf Mayrhofer, ‘n werknemer van Medupi, het Woensdagoggend 18 Mei kopbeserings opgedoen nadat die bestuurder van ‘n bus van Laeveld Busdiens van agter af in hom vasgejaag het.
Volgens Mayrhofer was hy en vriende op pad na ‘n jagtog. Hy het omstreeks 06:30 op die Markenpad rigting wes sy Toyota-bakkie, wat ‘n sleepwa gesleep het, se flikker aangesit om regs te draai na Opikopi Game Reserve toe die bus hom van after tref. Die sleepwa het die impak van die botsing ligter gemaak op sy voertuig, maar die stamp was so hard dat Mayrhofer se voertuig ook die voertuig voor hom, waarin sy vriende gery het, getref het.
‘n Ooggetuie wat vanaf rigting Lephalale op pad was in ‘n oostelike rigting, sê hy kan nie namens die bestuurder van die bus praat nie, maar dit het nie gelyk of die busbestuurder enige poging aanwend om stadiger te ry of te stop nie. Hy het die Toyota tot in die veld “gestoot” en die sleepwa was feitlik heeltemal onder die bus opgefrommel. Hy sê die passasiers van die bus het dadelik nadat die bus tot stilstand gekom het, by gebreekte vensters uitgespring en by die deur uitgeklim. Sover bekend is nie een van die passasiers ernstig beseer in die voorval nie.
Mayrhofer is op die toneel deur paramedici van ER24 behandel en teen druktyd was dit nie bekend of hy enige ander beserings as kopbeserings opgedoen het nie.
Kobus Bezuidenhout, operasionele bestuurder by Laeveld Busdiens, het aan Mogol Pos gesê dat hulle besig is met ‘n volledige ondersoek in terme van veiligheid en alle ander aspekte.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.