Carina se 2de roman

“Om ‘n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van ‘n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms”

Leoni Kruger
LEPHALALE — Carina Stander se splinternuwe tweede roman, Die Bergengel, word amptelik op Sondag 7 Mei vanaf 11:00 vir 11:30 deur Protea Boekhuis bekendgestel. Dié bekendstelling-met-kuns word by die Tina Skukan Galery in Koedoeweg 6, Faerie Glen, Pretoria-Oos gehou en 33 van haar kunswerke word ook daar uitgestal. Matthys Boshoff sal as gespreksleier optree.
Die kunsuitstalling kan daagliks besoek word tot 1 Junie (behalwe Sondae en Maandae).
Carina Stander wat tans saam met haar man, Gerrit van Niekerk en seuns, Aden en Illan, in die Tsitsikamma woon, was ‘n plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Sy het grootgeword op die plaas Bergfontein net buite Lephalale waar haar pa en ma, Sarel en Truikie Stander nog tot onlangs gewoon het.
Carina matrikuleer in 1994 aan die Hoërskool Ellisras waarna sy BA Beeldende Kuns gaan studeer by die Universiteit van Pretoria (TUKS). Ná ‘n honneursgraad in Beeldende Kuns aan TUKS werk sy vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan verskeie uitstallings, onder andere Sasol Nuwe Handtekeninge by Pretoria Kunsmuseum, PPC-Jong Beeldhouer-uitstalling by Pretoria Kunsvereninging, FNB Vita Awards by African Window Gallery en ‘n solokunsuitstalling by die Breytenbach Sentrum in Wellington.
As vryskutjoernalis by vyf tydskrifte was sy finalis vir ‘n AKTV-Mediaveertjie en twee maal Artikelskrywer van die Jaar by die Media24 tydskrif, Lééf. Van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole. Ná ‘n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, Die vloedbos sal weer vlieg, (Tafelberg, 2006), wat genomineer is vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys. Daarna volg Woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009). Gedigte uit dié bundel is getoonset deur Herman van den Berg en die Nederlandse musiekgroep, Souldada.
Haar debuutroman, Wildvreemd (Tafelberg, 2011) word op 27 Oktober bekendgestel by Lanzerac, Stellenbosch. Dieselfde aand open haar kunsuitstalling van karakters uit dié boek.
Skakel Eddington by 012 362 344 of stuur ‘n e-pos na eddington@proteaboekwinkel.com vir meer besonderhede oor die boekbespreking.
Die Bergengel sal tydens die bekendstellingsfunksie te koop wees teen R200.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.