Cecile Roos — ‘n nuwe seisoen lê voor

Cecile Roos en Ria Botha

LEPHALALE — Cecile Roos groet die Ellisrasgemeenskap met ‘n swaar en hartseer hart, want Ellisras en sy mense het onder haar vel ingekruip. Maar dit is tyd vir ‘n nuwe seisoen in haar lewe en sy het baie vrede in haar hart daaroor – Cecile verhuis binnekort na ‘n aftree-oord in Pretoria waar sy ook nader aan haar kinders sal wees.
Cecile, ‘n gebore Namibiër, het 35 jaar gelede saam met Renier en haar gesin in Ellisras gevestig waar hulle diep spore getrap het.
Ria Botha, vriendin en gebedsmaat van Cecile skryf: “Cecile is ‘n fenominale vrou wat onder die radar beweeg. Op haar stil en rustige manier het sy groot dinge in haar werk en in die gemeenskap gedoen. Haar hart en deernis het haar stil-stil laat uitreik na mense in nood.
Ons sal altyd aan Cecile dink as iemand wie se voete stewig op die aarde is, met ‘n wipstappie, vonkel in die oog en ‘n lekker lag uit die maag. Cecile staan uit as ‘n diep gelowige vrou met ‘n vaste geloof en vurige oortuiging dat Jesus Christus ons enigste Saligmaker en Verlosser in lewe en sterwe is. Dit is ook wat sy elke dag uitleef.
Baie Ellisrassers ken vir Cecile as professionele waardeerder en die ander deel van Odevco, die maatskappy van Cecile en wyle Renier Roos, haar wederhelf en bekende argitek.
Renier het baie “monumente” in Ellisras nagelaat – onder andere die Gereformeerde Kerk Magol en die pastorie.
Cecile ons groet jou met die bekende ‘Old Irish Blessing’ en veral met die volgende woorde: ‘ …and until we meet again, May God hold you in the palm of His hand”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.