“Chill” en hou karnaval!

THABAZIMBI — Volgens die Hervormers van Thabazimbi is die jaarlikse Thabazimbi Apiesdoring-karnaval ‘n geleentheid waar jy net kan “chill”, jou skoene uitskop en karnaval hou! Die Weg-tydskrif praat van hierdie karnaval as “Die basaar op steroïede”.
Die gebruik is dat lidmate ‘n paar voorstelle rakende ‘n tema vir die karnaval kan maak en dan word daar een Sondag na kerk demokraties gestem.
Ja, “chill” is nie ‘n amptelike Afrikaanse woord nie, maar dit is baie beskrywend van “hou op kla en kerm oor alles. Ontspan. Hou op stres en geniet dit wat jy het”.
So “chill”, hou op kerm oor die verengelsing van die kerke en gaan hou karnaval! Of om meer Bybels daaroor te wees, Spreuke 17 sȇ: “‘n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ‘n Neerslagtige mens tap jou krag”.
Hierdie jaar sal Marataba Privaat Wildreservaat (net 35 km buite Thabazimbi) ‘n interessante uitstalling hou. Stephanie Kulak, algemene bestuurder van hul veldgidskollege, sal saam haar span die uitstalling aanbied. Daar sal onder andere ‘n stalletjie wees waar oorlewingstegnieke gewys word, ‘n stalletjie waar kinders besig gehou word met allerlei veldpret en daar sal eenvoudige navigasietegnieke gewys word oor hoe om jou rigting te kry as jy verdwaal.
Nog ‘n nuwigheid vanjaar is die melkkosstalletjie van Ria Steenekamp. Na baie jare se druk vanaf lidmate en haar man vir sό stalletjie het sy toegegee en nou kan besoekers hierdie boere-delikatesse geniet. Nog redes om daar te wees is lekkernye soos roosterkoeke (hierdie jaar met ‘n spinasie en feta vulsel ook), vars gebakte brood uit die bakoond, potbrood, nat beskuit en koeke en nageregte in oorvloed.
Met net een fondsinsameling ‘n jaar doen van die kerk se susters dit groot! Een van hulle bak byvoorbeeld 50 koeke op haar eie, ‘n ander bak dertig melkterte en veertig wortelkoeke. Daar sal ook houtkruiwaens vol kleinkoekies te koop wees.
Vir die kinders is daar ‘n boomklimkompetisie, ‘n reuse tombola, spookhuis, laser kleiduifskiet, kettieskiet, wurmtrein, ‘n lekkergoedstal en ‘n lewende hawe-stalletjie.
Die Campbells tree vanaf 10:00 op en rondom 13:30 (na die veiling) tree Snotkop as die hoofgaskunstenaar op. En dit alles is gratis. Geen toegangsfooi.
Die Thabazimbi Apiesdoring-karnaval vind plaas DV Saterdag 6 Augustus by die Hervormde kerk. Verkope begin om 08:00.
Skakel Izak Joubert by 083 488 6357 of Hennie van der Linde by 083 507 0335 of besoek www.apiesdoringkarnaval.co.za vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.