“Daar gebeur iets binne mens”

Marthie Scheepers

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die meeste mense het ‘n droom. Vir sommige is dit sommer hier naby, vir ander is dit ver in die toekoms of dalk onbereikbaar.
Marthie Scheepers se besluit om ‘n reis aan te pak het skielik gekom. Die uiteinde verrassend.
Marthie het op 7 September 2016 uit Ellisras gery met haar Hyundai Getz. Meneer Getz.
Vir eers Pretoria toe na haar kinders.
Met twee kratte kos, ‘n sakkie met net die nodige klere, voëlboeke, ‘n kamera, verskeie paplepels en ‘n tent.
‘n Onverwagse wending in sake wat haar Pretoriakuier by die kinders verkort, laat haar op 19 September in haar kar klim. Sy ry en ry tot sy by ‘n vulstasie in Lichtenburg stop. Vra sommer vir die petroljoggie waar hy sal aanbeveel sy kan slaap. Hy maak ‘n oproep en sy arriveer by haar gastehuis. Die mense kan nie genoeg vir haar doen en haar op die hande dra nie. R180 per nag en R70 vir ‘n bord kos wat hulle sommer vir haar kamer toe neem. Sy kuier buite in die rokerskring en besef almal het maar “issues”.
Daarna is dit Kimberley, (hier skrop sy nes in haar tent langs ‘n rivier en in die nag lê sy lepel met die eienaar van die kampplek se een kolliehond…).
Sy raak verlief op die Oos-Kaap, gaan vir ‘n dag “tree festival” toe in Hogsback. “Daar was ‘n vuur en ‘n verhoog en ‘n mengelmoes van mense, kinders en honde. En almal is daar om vir ‘n naweek bome te plant. Dis die gom wat hierdie mense bymekaar hou” sê sy.
Vrywilligers het al sowat 9 000 inheemse bome geplant en bloekombome uitgehaal waar daar voorheen ‘n bloekomplantasie was.
Sy slaap in ‘n “backpackers” oornagplek saam met mense van soorte, maar leer daar dat dinge soos geure en kleure en geld niks van jou maak nie. Dit is die mens se hart wat tel. Dié middag kom daar ‘n ou verrimpelde vrou uit die bos gestap. Sy bly in die bos. Sy sê vir Marthie dat sy daar moet bly want die aarde het haar nodig. “Jy het sagte hande en kan mooi met mense en kinders werk”. Marthie se hart was diep geraak.
Dis ook by dié einste “backpackers” waar sy op die rand van ‘n berg gebad het in ‘n regte egte bad met die allerwonderlikste uitsig voor haar. As jy gaan bad hang jy net die ketting voor die paadjie en sê die bad is beset. So kry elkeen ‘n beurt vir ‘n bad-met-‘n-uitsig..
In Bethulie het sy in die Bethulie Hotel geslaap – net om te ontdek dat die eienaar ‘n versameling van 180 000 boeke en 100 000 langspeelplate het. Sy was in vervoering.
Sy oornag in Canon Rock en kuier by ou vriende in Kenton-on-Sea. Hulle haal laaang stories in.
Wolwefontein het die enigste stasiehotel wat nog in die land bestaan. Die eienaar se ma leer vir Marthie brei.
Die Karoo roep en sy en mnr Getz vat die stofpaaie.
Sy stop op ‘n stadium op ‘n grondpad naby Van Wyksdorp om gou iets te eet toe sy die Ford Cortina V6 met ‘n hengse spoed by haar sien verbyskiet. Sy kon sweer sy het ‘n Koedoekop op die enjinkap gesien. Sy skree dat hulle moet stop maar haar stem verdwyn in die stof.
Met haar stop in Van Wyksdorp sien sy die einste Cortina – Koedoekop op die enjinkap, stookketel op die dak.
Die vier manne van die Cortina is op pad na een of ander boerebyeenkoms. Van die ketel op die dak is daar ‘n pypie wat deur die koedoe se kop by sy mond uitkom en die straaltjie mampoer wat by die pypie uitkom word van êrens binne-in die kar af “aangeskakel”. En die vier manne is witwarm en bekkig, sê sy. Hulle moedig haar natuurlik aan om ‘n proetjie te vat van die pypie in die koedoe se bek. Sy proe en spoeg. Mampoer se Moses! Twee vroue oorkant die pad kon nie dié vermorsing van goeie goed aanskou nie en skree vir haar: “nee #@&%, moenie daai drank so mors nie!”
Sy ervaar die skoonheid van die Karoo vanuit ‘n grot in die nag, Die Hel was ‘n hemelse ervaring. Die Weskus was laaste. Paternoster, Pringlebaai, Bettiesbaai, Rooiels.
En toe is dit amper Krismis en tyd om huis toe te gaan. Want as daar een ding is wat Marthie ná haar binnereis weet, dan is dit dat die Bosveld haar plek is. Sy wil hier wees.
“Nadat ek terug was in my huis het ek op ‘n dag om my gekyk en geweet dit is waar ek wil wees”.
Marthie se reisverhaal was ‘n fisieke avontuur. Party dae meer opwindend as ander dae. Sy was soms alleen, maar meesal omring met vreemdelinge wat haar reis verryk het. Wat haar ‘n blik gegee het op ménse.
Sy het geleer dat ons land eintlik “olraait” is. Dat ‘n mens wêrelde kan verskuif met ‘n glimlag of deur net aan iemand se skouer te raak.
Marthie het die pad gevat en nie regtig eers geweet waarheen sy ry nie. Haar gemoed was op daardie stadium ontstuimig. Sy wou wegkom en sy het die geleentheid gehad. Dit was tyd.
Eers met haar terugkoms het sy besef sy het ‘n storie om te vertel.
Die Britse filosoof, James Allen, wat bekend was vir die skryf van inspirerende boeke, het gesê ‘n mens kan nie van binne reis en van buite stilstaan nie.
Marthie se binnereis het haar baie van haarself en van ander mense geleer “iets verander binne-in ‘n mens”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.