Daar loop ‘n see-koei in die pad…

Dié seekoei het Dinsdagoggend in Peter Mokabastraat gestap en vir groot opwinding gesorg

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Wandelende seekoei het Dinsdagoggend 16 Mei vir groot opwinding in Lephalale gesorg. Dié seekoei het omstreeks 06:30 in Peter Mokabastraat (ou Knoppiesdoring) afgestap. Motoriste kon hulle oë nie glo nie en op ‘n video, geneem deur Dirk Heunis, kan die verstomming in sy stem gehoor word terwyl hy sê “hier loop ‘n seekoei in Knoppiesdoring..”.
Die seekoei het voorlopig ‘n blyplek gekry in ‘n stormwaterdam in Ledibeng-ekolandgoed waar sy gevoer word totdat verdere besluite geneem kan word.
Mogol Pos het by Leon Fourie gaan kers opsteek en volgens hom lyk dit soos ‘n jong koei. Hy het gesê dat hy wel vrystelling het om seekoeie aan te hou en dat daar tans ongeveer sewe seekoeie by hom is.
Fourie het aangedui dat hy bereid is om die kostes te dra om die seekoei te pyl en by hom te vestig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.