Dankbaarheid oor reën — nog reën moet val

LEPHALALE — Die reën wat die afgelope naweek in verskeie gebiede geval het, het tot groot dankbaarheid onder veral die boere gelei. Dit het ook die geweldige hitte verlig.

Die damvlak van die Samevloeidam (waar die Mogol- en Limpoporivier bymekaarkom) was nul voor die reën geval het

Volgens grondeienaars teen die Limpopo- en Mogolrivier was dié riviere op plekke heeltemal droog, rooibokke het begin aborteer en koedoes het gevrek.

Die meeste wild- en veeboere voer al baie lank – daar is geen kos in die veld nie. Van die bome het nog nie gebot nie. Kortom, die dankbaarheid is groot, maar die droogtekrisis is nog nie afgeweer nie.

Plase in die Tambotie/Overyssel-gebied waar heelwat reën geval het is De Draai – 53 mm; Grafton 60 mm, Tamboti – 70 mm, Annexatie 74 mm, Leadwood 82 mm, Paarl – 20 mm, Annexatie/Mijoro 55 mm, Iamavé 26 mm, Victoria 54 mm en Klipkraal 60 mm.

Plase op die Uitspanpad: Eendracht – 34 mm, Thakadu Game Breeders 67 mm en Fahad Private Game Reserve – 42 mm. Daar is plekke wat tot 80 mm reën gehad het.

In die Steenbokpan-area: Glenover – 33 mm, Hardekraaltjie – 25 mm en Steenbokpan 46 mm. In die Afguns/Elmeston-area het plase ʼn gemiddeld van 70 mm gehad.

Volgens Hendrik Tempel, besturende direkteur by Fahad, het hulle net 231 mm reën in die hele 2018-seisoen gehad – die gemiddelde reënval per jaar vir die afgelope 100 jaar is 400 mm.

Tempel sê die gemiddelde reënval vir die laaste twee tot drie jaar is ver onder gemiddeld en hierdie syfers sal al die plase teen die Limpoporivier verteenwoordig, want dié gebied se reënval is laer as byvoorbeeld die dorp.

“Die effek van die laaste drie jaar se lae reënval is dat die toestand van die gras of veld al hoe swakker word. Die veld word dus al hoe kaler en yler met elke droogte. Dit gaan letterlik jare neem om te herstel. Boere moet vroeg in 2019 soveel as moontlik wild afhaal anders gaan die veld nooit herstel nie. “Rooibokke, wildebeeste en sebras is die groot sondebokke wat die veld kan verniel as die getalle nie reg is nie,” sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.