Dankbare Marlene getuig

LEPHALALE — Sommige inwoners sal Marlene Vermaak (gebore Kaiser) onthou as jong meisietjie wat jare gelede in Ellisras by verskeie apteke, onder andere Koedoe Apteek, en ook by Marinus Kruger se Apteek gewerk het.

Marlene, nou 56 jaar oud, bestempel die jare in Ellisras saam met Ferdi Steyn van Koedoe Apteek en Marinus Kruger as gelukkige jare in haar lewe. Sy is daardie jare getroud en het drie pragtige seuns uit dié huwelik. Marlene se huwelik was egter later op die rotse en sy beland in die Vaaldriehoek as enkelouer en moes deur hartseer en harde werk haar lewe voortsit.

Intussen het Marlene baie ernstig siek geword.Toetse is gedoen, maar sonder ʼn positiewe diagnose. Die lewe gaan aan en sy trou intussen met Michael Vermaak. Hulle is nou reeds 18 jaar gelukkig getroud.

Haar siekte het egter kort-kort kop uitgesteek en dokters kon steeds nie vasstel wat Marlene makeer nie. Kanker is vermoed.

Week na week het sy vir toetse gegaan, maar geen kanker kon gevind word nie. Binne twee jaar het Marlene ernstig siek geword en sy was gereeld in die hospitaal vir toetse. Sy word toe na dr Zaidy in die Kloof-hospitaal verwys wat ook met toetse begin en biopsies uitvoer.

Uiteindelik ʼn diagnose: ʼn Outo-immuunsiekte. Vir ongeveer vier jaar is Malene op medikasie en het, deur haar apteekwerk deur, baie dinge baie moeilik hanteer. Terugslae was deel van haar alledaagse lewe. Aflegging by die werk, dood van ʼn paar geliefde familielede onder andere haar pa en siekte. Marlene glo dat al hierdie trauma en terugslae beslis ‘n negatiewe impak op haar gesondheid gehad het, soveel so dat dr Zaidy haar verwys het na ʼn oorplantingseenheid vir ʼn vol leweroorplanting. “Dit was vir my verskriklik moeilik,” sê Marlene. Sy het ʼn afspraak by ʼn professor by Transplant in Johannesburg gemaak en hulle het haar op die “dringende waglys” vir ʼn vol leweroorplanting geplaas. Marlene sê dat sy aanvanklik so verslae en baie baie bang was. Sy moes haar tasse gepak hou en haar telefoon dophou vir 24 uur ʼn dag.

Sy het intussen bly werk om die finansiële kostes en mediese fonds te kon betaal.

Op 31 Oktober 2017 om 16:00 na haar skof het sy huilend uit die apteek gestap en by die huis vir haar man gesê dat sy net eenvoudig nie meer kan nie. Hy het vir haar gesê om te gaan bad, in die bed te klim en hy sal vir haar tee bring. Sy was egter so uitgeput en het in die bad aan die slaap geraak, waarna Michael haar bed toe gehelp het. Haar foon het gelui. Sy wou nie antwoord nie, want sy wou met niemand praat nie. Kort daarna het sý foon gelui. ʼn Vrouestem sê toe: “Good evening Mr Vermaak, this is Lizelle speaking from the transplant hospital. I just want to tell you we have a suitable liver for your wife. Please bring her in.”

Trane en nogmaals trane. Gemengde emosies van opgewondheid en angs het haar beetgepak. Hulle moes binne vier ure by die hospitaal aanmeld. Toe gebeur die wonder. “Toe ek by die hospitaal se deure instap sê ek vir Michael ek kry so ʼn warm gevoel om my en die angs het verdwyn. Dit was of ek God se teenwoordigheid so duidelik kon voel”.

Daar is toe nog toetse gedoen. Die professor het vir Marlene gesê sy moet net rustig bly. Toe die skenkerlewer by die hospitaal afgelewer is, moes hulle eers weer ʼn biopsie daarop doen om seker te maak dat dit met haar liggaam versoenbaar is. “Die afwagtig was baie erg,” sê Marlene, maar nie lank daarna nie, toe wys die professor met sy duim alles is reg! Teater toe! Na ʼn agtuurlange operasie en nege dae in die hospitaal is Marlene huis toe.

Dis nou amper 11 maande later en Marlene was reeds agt maande gelede weer terug op haar pos by die apteek!

“Ek dank God vir elke dag wat ek die voorreg het om my oë oop te maak en vra net genoeg genade vir elke dag. Alhoewel ek nog dikwels huil gee ek aan God al die eer en dank dat Hy my elke minuut van die dag dra, al laat die medikasie, wat heelwat newe-effekte het en wat ek lewenslank moet drink, my nie lekker voel nie. Dié medikasie keer die verwerping van die “nuwe” oorgaan”.

Marlene moet nog gereeld bloedtoetse ondergaan maar is vol moed en vertroue en haar geloof dra haar deur moeilike dae.

“Ek wil graag almal bedank wat my in hul gebede hou. Veral Ellisrassers soos Coreen en Antoon Venter en Coreen se suster Ina Kruger, Ronel Coetzee en Ferdi Steyn, asook vir hul bydraes. Dankie vir alle boodskappe van getroue vriendinne. Bly asb bid en mag God julle seën. Ek en Michael waardeer alles opreg.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.