“Dankie dat ek julle kon dien” — Francois groet Agri

Sandra Pretorius, sekretaresse van Agri Lephalale, het ‘n pragtige leer-briewetas aan Francois oorhandig as afskeidsgeskenk

Leoni Kruger
LEPHALALE — Lede van Agri Lephalale het Dinsdag 7 Februarie afskeid geneem van Francois van den Berg wat sedert 2003 voorsitter was van Agri Lephalale.
Die nuut verkose voorsitter, Douw Pelser, het in sy afskeidsboodskap gesê dat dit moeilik gaan wees om Van den Berg se skoene vol te staan omdat hy besonder baie moeite gedoen het om Agri-lede ingelig te hou oor die nuutste verwikkelinge in die landbouwêreld en dat die moeite nie altyd erken is nie.
“Dankie vir die harde werk deur die jare en dat jy Agri op die “map” gesit het. Ek gaan nog baie hulp nodig hê en vir raad aanklop” het Pelser afgesluit.
“Toe ek vanoggend op ‘n stoel gaan sit soos die res van die lede en nie op die voorsitterstoel nie, het dit nogal vreemd gevoel” het Van der Berg gesê.
Hy het verder gesê die taak is baie groter as jyself, dit is ook nasionaal van baie groot belang.
“As mens kyk na hoe baie dinge verander het vanaf 2003 tot nou toe, besef jy dat dinge soos grondonteiening politieke dinge is wat ons heeltyd moet veg” het hy gesê.
Hy het afgesluit deur almal te bedank wat hom deur die jare ondersteun het en sy vrou, Martie, spesiaal bedank dat sy al die jare by hom gestaan en hom vriendelik ontvang het as hy laat saans tuis gekom het.
“15 jaar is ‘n lang tyd. Dankie dat ek julle kon dien. Sterkte vir die pad vorentoe” het hy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.