Dankie GPF — verdagte blitsvinnig gekry

LEPHALALE — “ʼn Groot dankie aan die lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir hulle vinnige reaksie en positiewe arrestasie nadat daar Saterdagoggend omstreeks 02:00 by my ingebreek is”.

Die verdagte kan duidelik gesien word op dié videogreep

Só sê Dewald van Zyl nadat twee verdagtes in die vroeë oggendure by sy gastehuis ingebreek het.

“Die kok het my 04:45 gebel om te sê daar is ingebreek. Daar aangekom het ek gesien dat hulle oor die elektriese heining geklim het en die alarm het nie afgegaan nie. Daarna het hulle by die kok se kamer ingestap – sy deur was nie gesluit nie – en sy skootrekenaar van die kabel ontkoppel en die kabel daar gelos,” vertel Dewald.

Die verdagtes het ook die kok se selfoon gesteel.

“Daarna het hulle een van die kamers se slot probeer oopbreek en dit baie beskadig. Hulle het wel daarin geslaag om ʼn ander kamer se deur oop te breek waar hulle nog ʼn TV-stel en in die kroeg nog twee televisiestelle en ʼn musieksentrum gesteel het. Om 02:35 is hulle weer met dieselfde roete uit met ʼn duvet – waarskynlik om hulle gesteelde goedere in toe te draai,” sê hy.

Op ʼn videogreep wat geneem is deur die kringtelevisiekameras op die perseel, kan duidelik gesien word hoe die een verdagte sy gesig probeer toehou toe hy die kamera sien en dan draai hy die kamera dat dit na die dak se kant toe wys.

Dewald sê hy het rondom 07:00 die oggend polisiestasie toe gegaan om die inbraak aan te meld. Hy het rondom 07:30 teruggekom van die polisiestasie af en die videogreep op die GPF se WhatsApp-groep geplaas.

Hy sê Thys Eloff, voorsitter van die GPF in Lephalale, het hom minute daarna geskakel en gevra of hy foto’s van die gesteelde goedere het waarna hy foto’s vir Thys gestuur het.

“Omstreeks 10:00 se kant Saterdagoggend bel Thys my om te hoor wat is die maak van die skootrekenaar wat gesteel is. Iemand het daardie oggend ʼn skootrekenaar by ʼn rekenaarplek ingegee en gevra dat die winkel dit vir hom laai omdat hy nie ʼn kabel het nie. Die persoon in die winkel het dadelik onraad vermoed, want die battery het nie meer gewerk nie. Hy het die GPF geskakel en hulle het die man laat weet hy kan sy skootrekenaar gaan haal, dit is klaar gelaai. Die verdagte is ʼn uur later gearresteer,” sê Dewald.

Sover vasgestel kon word was die meeste van die gesteelde goedere teen druktyd by die polisiestasie.

Op Maandag 21 Januarie het adjudant-ofisier Frans Mokoena, Lephalale Klusterwoordvoerder, bevestig dat die verdagte, March (Mordu) Tauwanda Trust (29), gearresteer is en dat daar tans agt klagtes van huisbraak en diefstal teen hom hangende is. Hy het Dinsdag 22 Januarie in die Landdroshof in Lephalale verskyn en teen druktyd was die hofuitslag nog nie bekend nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.