“Dankie” sê Dawid se ouers

LEPHALALE — Wat meer kan ʼn mens sê as “baie dankie”? Só sê Retha du Plessis, ma van Dawid du Plessis wat op 23 Januarie vanjaar in sy bed deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gebyt is.

Uiteindelik – die Du Plessis-gesin kan weer lag en vrolik wees na die nagmerrie waardeur hulle is. V.l.n.r.: Megan, Retha, Dawid en Philip

Retha en die spraaksame Dawid wat hierdie week in Mogol Pos se kantoor sit, is ander mense as wat hulle in Januarie vanjaar was met Mogol Pos se besoek aan die hospitaal die dag ná die voorval.

“So-iets het ʼn onherrroeplike invloed op alles in jou lewe. Ons los nooit meer ʼn deur of ʼn venster oop nie en kyk onder al die beddens voor ons gaan slaap. As iemand vir my direk na die voorval gesê het die herstelproses gaan so lank wees sou ek hulle nie geglo het nie,” sê Retha.

Dawid slaap nou permanent in sy ouers se kamer en sy sus, Megan, net voor hulle kamer.

Dit gaan egter stukke beter – Dawid besoek die dokter nou net een keer per maand waar dit voorheen een keer per week was.

“Daar is sekere oefeninge wat hy daagliks moet doen en ons moet elke dag wondmassering doen. Die dokter meet Dawid se hand met elke besoek, kyk of hy al ʼn vuis kan maak, maak seker die spiere trek nie styf nie en hy gee nuwe oefeninge,” verduidelik Retha. Hy kry ook op 9 Mei vanjaar ʼn drukhandskoen wat sal bydra tot die herstelproses.

“Dankie aan almal in die gemeenskap vir hulle ongelooflike ondersteuning, bystand en gebede. Dit was ʼn lang pad tot hier, maar julle ondersteuning en gebede het ons elke dag gedra. Ons kyk elke dag vorentoe en is dankbaar vir soveel genade”.

Dawid se linkerringvinger is Sondag 11 Februarie in die Netcare Montana Hospitaal geamputeer omdat sy gewrig en kneukel op daardie stadium “verwoes” was deur die gif.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.