Dankie vir dop en dampie

LEPHALALE — Die rokers en drinkers juig oor president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat sigarette weer vanaf Maandag 17 Augustus om middernag beskikbaar was. 

Nie dat sigarette en drank nié tydens Vlak 5, 4 en 3 van die nasionale inperking beskikbaar was nie. Daar is nie één roker met wie Mogol Pos gepraat het wat in dié tyd ophou rook het nie – hulle het net van handelsnaam en verskaffers verander …
Dit is wat sommige van dié rokers sê:

Volgens me A, ’n 61-jarige dame, het daar nie ’n dag in die grendeltyd verbygegaan dat sy en haar man, ’n pensioenaris, nie sigarette en ’n alkoholiese verversing gehad het nie. As jy die regte mense ken, kon jy geholpe raak.

’n 52-jarige besigheidsvrou sê sy het die afgelope amper vyf maande sowat R800 per week aan sigarette spandeer, aangesien haar twee seuns ook rook. Dit beloop ’n aardige R16 000!

Sy vertel dat sy een keer aan die begin van die grendeltyd R3 000 se onwettige sigarette uit Pretoria ontvang en gemiddeld R450 vir ’n boks wyn betaal het. As sy nou terugdink klink dit na waansin…
Wat sê die handelaars?

Maandagoggend was Thys Botes, bestuurder by Pick n Pay in Lephalale Square, steeds nie seker of hulle Dinsdag hulle voorraad sigarette van die verskaffers af sou ontvang het nie. Hulle het wel betyds bestel. Teen Dinsdagoggend was daar net enkele handelsnaam-sigarette beskikbaar en die bestelling steeds nie afgelewer nie.

Botes sê die voorraad sigarette wat hulle gehad het was voor die grendeltyd uitverkoop.
Hulle het miljoene aan inkomste verloor met die beperking op dop en dampie.

“Baie mense vergeet dat hulle nie Vrydae hulle naweek se voorraad alkohol kan aankoop nie. Naweke en middae ná 17:00 is ons beste verkooptye van alkohol,” sê Botes.

Dinsdagoggend teen 10:00 was daar nie ’n enkele klant in Pick n Pay Lephalale Square se drankwinkel nie. Daar was ook geen rye voor die winkel nie. Botes sê dit kan wees omdat die meeste mense werk en ook nog nie salarisse vir Augustus ontvang het nie.

Volgens Willie Loots, eienaar van die kiosk by die Q4-vulstasie, het rokers Dinsdagoggend van 04:00 af met die oopmaak van die winkel reeds in rye gestaan om hulle dampie-voorraad aan te vul, maar hy het toe net twee handelsname beskikbaar gehad. Hy het ook gewag op aflewering.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.