DBV en ander verrig wondere

Leoni Kruger
LEPHALALE — Danksy die Community Veterinary Services South Africa (CVSSA) se dr Renee van Rheede Van Oudtshoorn, dr Tanya en dr Patrick van Australië, al die studente van Onderstepoort en die bestuur en vrywilligers van die DBV in Lephalale, is meer as 100 diere die afgelope tyd gesteriliseer.
Die spanne was Saterdag 8 Julie by die Mothlasedi Primary School in Boschediesche Village in Seleka waar sterilisasies gedoen is.
Vrywilligers het ook altesaam tien donkiekarre reggemaak. Donkiebitte is spesiaal deur Deon en Christel van Rensburg gemaak en volgens Erika Tempel, bestuurslid van die Lephalale DBV, was hulle beplanning rondom die bitte so goed dat dit nie die diere se bekke seermaak nie. Erika bedank ook vir Tinus van Vuuren en Thinus Henning vir hulle mooi bitte.
Nog vrywilligers het bladvere en sweiswerk gedoen en die plaaslike gemeenskap het met groot verwondering en dankbaarheid opgedaag. Party het onmiddellik met hul waens begin spog by bure en kennisse. Sommiges wou onmiddellik nog donkies aanskaf.
Hendrik Tempel en Herman Thutwane het gesweis, geverf en nommerplate, geborg deur Moeggewag, opgesit en ook weerkaatslint vasgeplak ter wille van padveiligheid.
Wiaan Cornelissen en Hugo en Madelie Lourens het donkievoer afgelaai en gehelp om die donkies se halters gemaklik en netjies te kry.
Sweisbenodighede vir die regmaak van die donkiekarre is geskenk en brode is geskenk vir almal wat daar was en wat gehelp het. Vrywilligers Rene, Sharon, Christine en hul span het heerlike sop gekook en veral die kinders wat lank moes wag voordat hulle hul troeteldiere kon huis toe neem, is bederf met warm sop en ‘n broodjie.
Theo Behrens en Leanne van Remax was die diere-ambulans en hulle het die publiek met hul troeteldiere van hul huise na die teater en weer terug huis toe vervoer. “Hulle het regtig ‘n groot verskil gemaak om die ratte seepglad te laat verloop” sê Erika.
Water en botteltjies koeldrank is geskenk en Ivy Majelo en Sani het die hele dag gehelp met die opdiening van verversings en hulle het ook gehelp om te tolk.
Loutjie Steenekamp, hoofseun van Hoërskool Ellisras, het die plaaslike gemeenskap touwys gemaak oor hoe om hul eie halters met tou te maak. Hy het self ook ‘n paar halters gemaak en geskenk vir werkende donkies. “Dit was werklik ‘n stappie vorentoe om weg te beweeg van waaierbelde en drade wat donkies beseer” verduidelik Erika.
Die spanne het Sondag 9 Julie dieselfde diens gelewer in Marapong en hulle het gebruik gemaak van Tielelo Secondary School se fasiliteite om diere te steriliseer.
Op Maandag 10 Julie is hulle na die Thusong Community Centre in Steenbokpan. Die Lephalale Munisipaliteit word bedank vir die vergunning om die fasiliteit te gebruik.
Op 11 Julie was hulle in Vaalwater waar van deur tot deur inentings teen hondsdolheid en ontwurming gedoen is. Hulle beplan om 10, 11 en 12 Augustus weer Vaalwater toe te gaan vir sterilisasies.
Erika sê die personeel, Archie, Mariska, Dixon en Jan, het deurentyd die gemeenskap opgevoed deur middel van die deel van inligting. Die kinders het opvoedkundige prente ingekleur en huisbesoeke is gedoen om mense aan te moedig om diere te steriliseer.
Erika bedank “die ongelooflike vrywilligers wat vir maande lank bitter hard gehelp het met voorbereidings vir die uitreike en vir vier dae getrou opgedaag het, ons kon dit nie sonder julle gedoen het nie. Eli en Paul Spiring, Lauren Hart, Milissa Fox, Candice Lubbe, Helen Gair, Armand du Plooy en Deirdre Meyer verdien elkeen ‘n medalje. So ook Desire Cloete vir haar verversings en beplanning om alles aangery en gereël te kry en Cheryl Oosthuysen vir haar bydrae. Dankie ook aan die gemeenskap van Lephalale vir hul positiewe gesindheid teenoor die DBV. Ons kan nie die deure oophou sonder hul ondersteuning nie” sê Erika.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.