DBV-uitreik verstommend!

dscf6604

Leoni Kruger
SHONGOANE — Die diere-beskermingsvereniging (DBV) van Lephalale het Saterdag 12 November ‘n uiters geslaagde uitreik in Shongoane 3 gehad.
Erika Tempel, DBV-bestuurslid en ‘n bekende diereliefhebber was aan die stuur van sake.
‘n Span DBV-komiteelede en vrywilligers het onverpoos gewerk om 101 honde te dip, in te ent en te ontwurm. Dit was spanwerk soos jy lanklaas gesien het
Die span wat deel was van die uitreik en altesaam 59 honde op een dag gesteriliseer het, is dr Renee Van Rheede Van Oudtshoorn (veearts en kliniese direkteur van CVSSA Community Veterinary Services Southern Africa), dr Taz Arbi (veearts), Ettiene en Jenni Putter en Cherie Ziervogel (dierewelsyn-assistente), Stef Van Rheede Van Oudtshoorn (etiese toesighouer en direkteur van CVSSA) en Lafras Moolman (leerder wat werk vir ondervinding in gemeenskapsdiens).
Die hele span is voltyds in hulle eie beroepe en praktyke en doen die uitreike as vrywilligers. Dr Renee sê sy doen baie werk vanuit haar praktyk in Cullinan en sy fokus baie op “humane education” in skole in Gauteng.
Hulle is ses tot twaalf weke per jaar weg van hulle huise vir projekte soos Saterdag se uitreik (ook in lande soos Botswana en Zimbabwe).
Die Duitse maatskappy Welttierschutz-gesellschaft e.V borg die span. Dr Renee sê sy was sedert 2001 in die buiteland betrokke by welsynswerk in Europa en Indië. “Toe ek in 2007 terugkeer na Suid-Afrika het ek die nood in ons eie land besef en dis maar nog altyd my hart se punt. Sedert 2007 het ons geleidelik met die hulp van my buitelandse kontakte ondersteuning vir ons projekte gekry” sê sy.
Sy sê haar ervaring van Saterdag se uitreik in Shongoane was absoluut fantasties. “Uit al die projekte deur al die jare was Lephalale een van ons gunstelingprojekte. Dis so lekker om in ‘n gemeenskap te help waar hulle hulself ook probeer help en saamstaan…dan is helfte van die stryd gewonne!”
Hulle doelwit is om in Junie/Julie 2017 weer 150 tot 200 sterilisasies in hierdie omgewing te kom doen.
Intussen het ‘n span van Bosveld 4×4, Fahad Game Reserve en Lerina Els 24 donkiekarre gediens en herstel. Die span van Highveld Horse Care het, in samewerking met die DBV, meer as 30 donkies se beserings “gedokter”, hulle met ontsmettingsmiddel afgespuit en vir hulle splinternuwe harnasse aangesit. Tussen al die bedrywigheid deur het die donkies onophoudelik gesmul aan die lusern wat Wynand Botha geskenk het.
Die donkie-eienaars is een na die ander trots daar weg met hulle gedienste donkiekarre – kompleet met nommerplate geskenk deur Don Emslie, ‘n halwe lusernbaal en versorgde donkies. Dit was duidelik dat die nuus oor die uitreik blitsvinnig in die buurt versprei het, want hoe later dit geword het, hoe meer donkiekarre het opgedaag vir ‘n diens.
Volgens Erika het hulle rekord gehou van die donkiekareienaars vir wie hulle nie kon help nie – bloot omdat die tyd hulle ingehaal het. “Ons sal hulle weer kontak en hulle karretjies regmaak” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.