Die A-Z van voorbrande

Augustus is hier en daarmee saam die warm herfswinde. Die Bosveld se reënseisoen is nog ‘n entjie weg en die veld is droog. Veldbrande is jaarliks een van die grondeienaar se grootste vrese.
Elke grondeienaar behoort te weet dit is noodsaaklik om brandpaaie te hê en voorbrande kan ‘n reuse-verskil maak in geval van weghol-veldbrande. Daar is wel sekere gevolge as grondeienaars nalatig is rondom voorbrande.
Wat sê die wet? Wanneer is die regte tyd vir voorbrande?
Watter gevolge kan dit vir ‘n plaaseienaar inhou wat nie voorbrande gemaak het nie en daar ontstaan ‘n veldbrand en die buurplaas ly skade?
Mogol Pos het by Butch van Blerk, direkteur by Bill Tolken Hendrikse Ing, gaan kers opsteek oor wat die wet sê en hoe om die brandseisoen oor die algemeen te hanteer.
“Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande nommer 101 van 1998 bevat bepalings wat pligte aan eienaars van grond oplê ten opsigte van die voorkoming en bestryding van veldbrande. Die Wet plaas die verantwoordelikheid op die eienaar van grond vir die bestuur en beheer van brande op sy of grond. ‘n Eienaar moet redelike voorsorgmaatreëls tref ten einde te verhoed dat brande vanaf sy grond kan versprei. Dit is van toepassing waar daar ‘n risiko bestaan dat ‘n veldbrand op sy grond kan ontstaan of daarvandaan kan versprei na ‘n ander eienaar se grond.
Artikel 34 van die wet bepaal dat ‘n eienaar in ‘n siviele eis aangespreek sal word vir skade weens nalatigheid as gevolg van ‘n veldbrand wat deur hom veroorsaak is; of begin of versprei het vanaf sy grond. Daar sal dan ‘n vermoede van nalatigheid teen hom geld, indien hy nie lid is van ‘n brandbeskermingsvereniging (BBV) in die gebied waar die brand voorgekom het nie.
Plig om voorbrande voor te berei en in stand te hou:
Die wet vereis dat ‘n eienaar ‘n voorbrand (brandstrook) op sy kant van die gemeenskaplike grens met aangrensende grond moet aanbring waar daar ‘n risiko bestaan dat ‘n veldbrand vanaf sy grond na ‘n naburige eiendom kan versprei. Die wet maak voorsiening vir kennisgewing en samewerking tussen bure in die geval van voorbrande wat aangebring moet word. Die eienaar wat van plan is om ‘n voorbrand te maak, moet die buurman raadpleeg om ‘n geskikte datum vir beide te reël. Indien ‘n eienaar nie ‘n tyd met ‘n buurman kan reël nie, kan hy of sy net 14 dae skriftelike kennis gee van die voorneme om te brand. Die wet vereis dat die buurman sy voorbrand op dieselfde dag moet maak soos ooreengekom of in kennis gestel, ook om teenwoordig te wees en voldoende brandslaners beskikbaar te stel om die verspreiding van die brand te voorkom.
Eienaars moet ook hul BBV in kennis stel van die voorneme om ‘n voorbrand te maak indien daar wel so ‘n BBV vir die gebied bestaan. As die BBV beswaar teen die voorbrand op daardie dag maak, mag die eienaar nie die voorbrand op daardie betrokke dag maak nie. Eienaars mag nie voorbrande maak as die brandgevaar op daardie betrokke dag te hoog is nie, of as die toestande nie daarvoor geskik is nie en die gevaar vir wegholbrande te groot is. Indien ‘n eienaar nie op ‘n aangewese dag kan brand nie, moet hy aan die buurman en BBV kennis van ‘n nuwe datum gee. Indien ‘n buurman afwesig is, moet hy aan sy bure kennis van sy afwesigheid gee. Indien ‘n buurman nie opgespoor kan word nie, kan in sy afwesigheid met die aanbring van ‘n voorbrand voortgegaan word. ‘n BBV kan sy eie reëls maak vir die aanbring van voorbrande. Dit moet deur die Minister goedgekeur word en bind die lede van die BBV.
Vereistes vir voorbrande:
Die wet spesifiseer nie gedetailleerde vereistes vir voorbrande nie. Dit is omdat die vereistes van een geval na die ander sal verskil. Plaaslike praktyk en plaaslike omstandighede bepaal wat hierdie vereistes is.
Die wet vereis wel van eienaars om aandag te skenk aan die lengte en breedte van voorbrande ten einde te verhoed dat daar in die droë seisoen verdere brande ontstaan. Brandstroke moet redelik vry van brandbare materiaal wees, maar nie tot die mate dat dit erosie veroorsaak nie.
Dit is vanselfsprekend dat brandstroke nooit alle veldbrande kan stop nie. Daar sal onvermydelik ‘n tyd wees wanneer toestande so erg is dat ‘n brand ‘n brandstrook sal oorsteek weens wind of andersins. Aan die ander kant het ondervinding voortdurend en herhaaldelik bewys dat brandstrokies nuttig is om baie brande te stop Die voorbereiding van voorbrande moet gesien word as ‘n noodsaaklike element van brandbestuur.
Waar die risiko van so ‘n aard is, verleen die wet aan die Minister die diskresie om ‘n eienaar of groep eienaars van die BBV vry te stel ten opsigte van die aanbring van voorbrande , indien goeie redes bestaan.
Die BBV moet geraadpleeg word voordat enige vrystelling verleen word. ‘n Voorbeeld is waar die Minister die reëls van ‘n BBV goedkeur waar die reëls sekere eienaars kan toelaat om sonder voorbrande te doen waar die veldbrandbestuurstrategie in sulke gevalle verseker dat brandrisiko behoorlik bestuur kan word sonder voorbrande.
Dit is ‘n vereiste van die wet dat voorbrande nie erosie mag veroorsaak nie en dit beperk ook die metodes wat eienaars mag gebruik om voorbrande aan te bring.
Oor die kwessie wanneer die mees geskikte tyd sal wees om voorbrande aan te bring, sal die korrekte optrede wees om dit met die samewerking van die BBV te doen.
Indien geen BBV gestig is nie, behoort die hoof van die plaaslike brandweer se hulp versoek te word.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.