Die fees van vrouwees

Leoni Kruger
LEPHALALE — Cathy de Lange, deeltydse motiveringspreker, het Lephalale se vroue Saterdag 24 Junie weer ‘n slag laat dink oor die fees van vrouwees toe sy op uitnodiging van Mej Bosveld-finalis, Anebe Oelofse, 40 vroue in die Mogolklub funksiesaal toegespreek het. Die onderwerp was “Vroufees”.
Cathy was nie altyd bekend nie, maar nadat sy ‘n video op haar Facebook-blad geplaas het oor vroue en hul lywe, het sy oornag bekendheid verwerf. Haar video is duisende kere gedeel en die meeste vroue het aanklank gevind by haar gesprek oor die ewige stryd om maer en mooi en sellulietloos te bly ten spyte van die feit dat ‘n vrou se liggaam ook kinders dra. Sy het beklemtoon dat die vroue reeds lewe in hulle liggaam gevoel en gedra het – hoe durf jy dan so krities wees oor jou lyf terwyl duisende kinderlose vroue daarna smag om lewe in hulle te dra?
Anebe (Bibi) Oelofse, finalis vir vanjaar se Mej Bosveld, het besluit om Cathy Lephalale toe te nooi as deel van haar fondsinsamelingsveldtog vir SAVF Maroela-Oord.
Anebe sê dit was ‘n groot ervaring om Cathy en haar gesin te ontmoet en die vroue wat die oggend saam met Cathy bygewoon het, het baie geleer oor hulself en dankbaarheid.
Om nog meer glans aan die geleentheid te verleen het Rina van Schalkwyk, Mrs South Africa Universal, die geleentheid bygewoon en besondere geskenkies aan die gaste uitgedeel.
Anebe bedank almal wat haar ondersteun het met die reëlings rondom die spesiale geleentheid en ‘n spesiale dankie aan Peter Bondesio wat van sy pragtige rokke beskikbaar gestel het om gedurende die oggend te vertoon. “Baie dankie ook aan al die modelle wat bereid was om my te help” sê Anebe.
Cathy het na afloop van die geleentheid vir Mogol Pos gesê dat sy baie tuis in Lephalale gevoel het. “Ek was nog nooit hier nie, maar toe ek in die lokaal instap, toe voel dit asof ek ‘n ou bekende is. Die mense van Ellisras is nog mense-mense. Soengroet jou soos ‘n jarelange vriendin. Ankia en Anebe het soveel moeite gedoen met die funksie waar ek gepraat het. Die dames was pragtig, die tafels asemrowend en die kos heerlik! En ek kon gesels. Uit my hart uit gesels. Soveel so dat ek naderhand my foon waarop my notas was, neergesit het. Dit het gevoel of ek met ‘n klomp vriendinne kuier. Ellisras en sy mense het my bekoor. Ek sal beslis eendag terugkom” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.