Die Groentjies gaan groot

IMG_0910-(Small)

Fransa de Beer
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se Groentjiekonsert is Donderdagaand 28 Januarie by die skoolsaal gehou. ‘n Volgepakte saal was die bewys hoe gewild die jaarlikse Groentjiekonsert is. Volgens die afrigters van dié konsert is die tyd wat hulle het om die Groentjies af te rig gewoonlik baie min (net twee weke), maar vanjaar se konsert was ‘n groot sukses! Abbigail Badenhorst en Tanya van Zyl het die teks gedurende verlede jaar se eindeksamen geskryf en hoofrolle uitgewerk. Alice, wat deur die omgewing se skoletoer op soek is na ‘n perfekte vriend met die regte waardes, is vertolk deur Chantè de Bruyn. Haar vriendinne wat help soek is Bubbles (Anzelle Vermaak), Buttercup (Ammi Cilliers) en Bossom (Ina Marie Roos). Alice se gedagtes is vertolk deur “Die kantlyn”.
In Alice en haar vriendinne se reis ontmoet hulle vir Frikkie Vryer, Plasie Potgieter, Hans Blydom, Louw Klaas (Warmbad) en Nylie Kwagga wat vir Alice drank wou injaag om haar “meer persoonlikheid” te gee! Uiteindelik ontmoet sy vir Rassie Ellis (JP van Staden) wat net die regte vangs is!
Wat die toeskouers laat skater het is die onderwysers se vertolking van “Rooikappie”. Hulle het veral mnr. Dandrè Grobler se danspassies en “hot” haarpruik geniet. Mnr Zirk Buys se vertolking van Rooikappie was iets uit ‘n ander wêreld. Die wolf is vertolk deur die nuwe juffrou, die pragtige Tildie Erasmus.
Daar was so baie mense dat die leerders op die vloer voor die verhoog gesit het. Die hoof, mnr Louis Campbell, het die ouers en nuwe Rassies geloof vir geduld en uithouvermoë en sien ‘n groot toekoms vir hierdie pragtige leerders wat die skoollied uit volle bors gesing het.
Hy het so ten slotte ‘n opmerking gemaak van ouers wat oudleerders is en ook die skoollied trots gesing het!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.