Die grootste hiervan was die gees

LEPHALALE — Die gewilde Krokkiekarnaval en Colour Foam Run van die NHK Onverwacht wat Saterdag 8 September gehou is, het soos altyd alle verwagtinge oortref. Krokkiefees, krokkiegees, krokkiekleur, krokkiekleurfees, krokkieskuim, krokkiekuier, krokkiesmulfees. Noem op en dit is KROKKIE!

Die karnaval het al die elemente gehad om ʼn uiters suksesvolle geleentheid te verseker. Proe, peusel en eet was wat hoog op die prioriteitslys van besoekers was.

Varsgebak, pannekoek, vetkoek, vars produkte, vars vleis, pap en kaiings, kerrie-en-rys, basaarpoeding en vele meer was ’n groot aantrekkingskrag.

Kinders is vermaak met ʼn spookhuis, gesigverf, speelpark, glybaan en skyfskiet.

Die Colour Foam Run het hordes mense gelok en hulle moes tou staan vir ʼn beurt om by die vyf verskillende skuimmasjiene in die skuim te kon baljaar. Die kleurvolle klere en gesigte wat daarmee gepaard gegaan het was ‘n besliste gelykmaker!

Gaan kyk gerus op Mogol Pos se Facebook-bladsy en deel in die manewales. Karnaval, fees en gees – maar die grootste hiervan was die gees!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.