Dié kat vat jy nie sonder handskoene …

ALMA — Die onderwysers en leerders van Laerskool Alma in Alma, het Vrydagoggend 1 Februarie ʼn ding aanskou wat jy nie sonder handskoene aanpak nie!

Vroegoggend, nog voor die skoolklok gelui het om die begin van die skooldag aan te dui, het onderwysers gehoor daar is ʼn groot bohaai buite.

Kinders het rondgehardloop en benoud uitgeroep dat daar ʼn luiperd in die draad verstrengel is. By nadere ondersoek sien hulle toe dis nie ʼn luiperd nie, maar ʼn tierboskat wat in ʼn strik gevang is. Die verskrikte tierboskat het tevergeefs probeer om te ontsnap.

Die hele petalje was natuurlik vir die kinders baie opwindend.

Cecile Nel, ʼn onderwyser by Laerskool Alma, het dadelik inisiatief geneem en dr Johan Barkhuizen, ʼn veearts van Modimolle, geskakel.

Hy was gelukkig reeds in die Alma-omgewing en kon spoedig dié pragtige, dog getraumatiseerde dier vang en sonder beserings in die natuur vrylaat.

Die personeel en leerders van Laerskool Alma bedank dr Barkhuizen vir sy hulp asook die geleentheid wat hieruit ontstaan het om vir die leerders te wys dat enige vorm van lewe kosbaar is.

Volgens Cornelia Erasmus, onderwyser by Alma, wat dié goedvoelstorie aan Mogol Pos gestuur het, het almal hulle verstom aan die dier se neongroen oë, indrukwekkende veerkrag en ongelooflike kaleidoskoop van kolle.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.