Die lewe én dood gevier

LEPHALALE — Die jaarlikse Kansa Relay for Life het Saterdagaand 15 September by Mogolklub afgeskop met die gebruiklike Survivors-rondte en daarna ʼn rondte deur die versorgers.

Die “Survivors”-rondte

Pastoor Billy Davies het die program op ʼn paslike wyse met skriflesing en gebed geopen en dit benadruk dat die lewe elke dag gevier moet word. Daarna was die baan oop en almal kon na hartelus om die baan loop, draf of hardloop. Alleen of saam met vriende. Uitgelate of met ʼn traan in die oog.

Dit was opmerklik hoe die “getroue” spanne wat jaar na jaar opdaag die aand opkikker. Hierdie geleentheid bied aan elkeen die kans om te assossieer met kankerlyers en vir kankerlyers om te bly hoop en nie moed te verloor nie. Exxaro het die meeste mense op die baan gehad.

Die Lumanariageleentheid om 19:30 was soos altyd hartroerend. Versierde sakkies met sand en ʼn kersie daarin het hulde gebring aan kankerlyers wat afgesterf het asook aan mense wat tans onder dié gevreesde siekte gebuk gaan. Woorde van bemoediging, trane wat weggevee is, maar ook blydskap oor genesing was oral te sien. Dié aand was ʼn bewys van pastoor Davies se woorde “om die lewe te vier” en die ondersteuning van die gemeenskap was betekenisvol.

“Na maande, weke en dae se beplanning is die groot KANSA Relay for Life verby. Baie dankie aan die 18 spanne wat deelgeneem het en die mense met die kosstalletjies wat gehelp het om die geleentheid moontlik te maak,” sê Nancy van Staden, KANSA Lephalale gemeenskapsmobiliseerder.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.