“Die lewe gaan aan” — dr Mariëtte Emslie

Dr Mariëtte Emslie verlede jaar by Danabaai

LEPHALALE — Dis bykans vier maande gelede. Die dag toe die Emslies se lewens onherroeplik verander het.
Dr Werner Emslie is op 20 September 2017 deur drie verdagtes op hulle plaas Waterval oorval en doodgeskiet. Dr Mariëtte is deur dieselfde verdagtes aangeval en geskiet. Die koeël het van haar organe getref en in ʼn been laag in haar rug in die spinale holte tot stilstand gekom waar dit steeds is. Die risiko om dit te verwyder is té groot.
Hulle dogter, Barbara, ʼn tweedejaar mediese student aan die Universiteit van Pretoria, was tuis tydens die voorval en kon daarin slaag om hulp te ontbied. Sy is nie ernstig beseer tydens die voorval nie.
Dr Mariëtte is na die intensiewe sorgeenheid by Muelmed in Pretoria oorgeplaas. Behalwe vir die emosionele trauma waardeur hulle is, was haar beserings baie ernstig. Sy het onder andere geen gevoel in haar bene gehad nie. Mariëtte is later na Muelmed se rehabilitasiesentrum oorgeplaas waar sy tot 7 Desember 2017 elke dag vyf ure geoefen het om weer selfstandig te kan funksioneer en die gebruik van haar bene terug te kry.
Na ʼn ontspanne Desember saam met haar kinders en familie het dr Mariëtte Maandag 8 Januarie weer by haar praktyk ingeval. Sy poog om ʼn maksimum van 10 pasiënte per dag te sien en om voortaan meer tyd saam met geliefdes deur te bring.
Haar vordering is merkwaardig en sy loop met behulp van krukke – die gevoel in haar bene is nog nie ten volle herstel nie. Sy oefen steeds elke dag saam met ʼn fisioterapeut en het verhuis na ʼn huis in die dorp naby aan haar praktyk. Die lewe gaan aan.
Haar voertuig is die afgelope naweek aangepas sodat sy self kan bestuur.
Van die tragedienag kan sy baie onthou, ook hoe sy feitlik geen pyn gevoel het nie, ten spyte van haar ernstige beserings.
Die moord op dr Werner Emslie het die hele gemeenskap in rou gelaat. Almal (veral boere) was skielik oorbewus van voorsorg- en veiligheidsmaatreëls. Wapens op die heupe, paraat. En dis goed.
Die feit bly staan – selfs al sou dr Werner se handwapen naby gewees het – watter verweer het een man teen drie wat hom uit die bloute oorval en eenvoudig begin skiet? Vyf skote in sy bors.
Dit help nie om kwaad en bang te wees nie, mens verstaan net nie die Here se doel met dit alles nie,” sê dr Mariëtte.
“Ek skrik menige nag wakker en wonder of dit alles tog net ʼn nagmerrie was,” sê sy.
Dit gaan goed met dr Mariëtte. Die lewe gaan aan.
Dr Mariëtte bedank die hele gemeenskap van Ellisras, Marapong, Shongoane en omliggende areas vir die ongelooflike ondersteuning. Sy bedank ook die gesin se vriende – “ons vriende het ons op die hande gedra en as dit nie vir hulle was nie, weet ek nie hoe ons deur dit alles sou gekom het nie. Dit maak my baie nederig en ek is ongelooflik dankbaar,” sê sy.
(Een verdagte is in verband met die voorval gearresteer en hy is steeds in aanhouding. Die twee ander verdagtes was teen druktyd steeds op vrye voet.)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.