Die lewe is ‘n lied — EHS Revue

img_6454

Fransa de Beer
LEPHALALE — Hoërskool Ellisras het van 12 tot 14 Oktober uitbundig geblom met hulle Musiekrevue. ‘n Verskeidenheid bekende films se musiek het van die aand een groot ritmiese fees gemaak met helderkleurige kostuums.
Solo’s is gesing deur Elizma van Heerden: Phantom of the Opera, Cats en Hoor my Lied. Thabisa Mkhiti het solo’s gesing soos Don’t cry for me Argentina en Tomorrow van die film Annie. Die leerders het met oorgawe gedans op musiek uit Footloose, Grease, Hairspray, Glee, Burlesque, Flashdance, Moulin Rogue en The Student Prince. Natuurlik was daar weer ‘n item waar die hoof, mnr Louis Campbell met oorgawe “If I were a rich man” opgevoer het en daarmee gehoor gegee het aan omtrent elke wese se begeerte!
Die onderwysers het ook weer deel uitgemaak van die program en die leerders geniet dit elke jaar verskriklik. Dit was inderdaad ‘n spanpoging. Campbell sê dis ‘n riem onder die hart om na die leerders te kyk wat die lewe met soveel entoesiasme geniet.
Me Annelie Wessels was die regisseur en is bygestaan deur Cherylize Janse van Rensburg, Zonika Erasmus, Rina Coetzee, Charlene van Staden en Tildie Erasmus.
Die klank en beligting is gedoen deur Muller’s Music en Dawie Vos het ‘n asemrowende CD gemaak ter herdenking aan jonkwees!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.