Die Pioniersjagters

Marthie Scheepers, Nicolene Gouws en Marlien de Ridder saam met die Pioniers

Marthie Scheepers
LEPHALALE — Die Pioniersjagters is bewaarders van kultuur, gebruike, jagmetodes en geskiedenis en hulle kom jaarliks vir ‘n week op Weltevreden bymekaar om die 1800’s te herleef.
Geen moderne toerusting of item word in die kamp toegelaat nie. Dit is ‘n week waar daar in die verlede geleef en gedoen word. Daar is selfs ‘n handgemaakte ossewa en outydse gewere met name soos Martini en Voorlaaier word ingespan. Die manne dra ook die bokke wat geskiet is self kamp toe.
Dit was altyd ‘n probleem om water by die troepe te kry, maar met die draai van die eeu verbeter militêre tegnologie ook – vandaar die Cart Water Mark 2. Met vyf krane nogal. Die middelste kraan is groter en laer om kieme wat in die water agterbly en siektes veroorsaak te voorkom. Ewe slim.
Dr Willie Barnard se oupa kry êrens een van dié watertoestelle en neem dit Weltevreden toe – nou staan dit steeds waterdig sonder enige roes in die pionierskamp. Daar is wel gerugte dat dr Willie dit snags met ‘n heel ontoelaatbare tuinslang volmaak.
Op pad huis toe na afloop van ‘n baie insiggewende naweek wys beginner-boomkyker, Nicolene Gouws, die een bergsering na die ander uit.
Dis nou dieselfde vrou wat eintlik net bietjie “uit die huis wou kom”…

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.