
Leoni Kruger
LEPHALALE — Die Gereformeerde Kerk Magol se jaarlikse Dopperfees is Saterdag 27 Augustus vir die eerste keer by die Mogolklub gehou. Dit het besonder goed gewerk aangesien die Dopper-gholfdag op dieselfde terrein gehou is.
Die allermooiste koeke is sommer vroeg-vroeg deur soettande opgeraap en die mooiste handwerk is uitgestal. Die pannekoektafel kon nie voorbly om dié tradisionele lekkerny te bak nie.
Ds Hendrik de Beer het die musiektafel beman en volgens gerugte het hy self so een of twee keer sy heupe op die maat van die musiek gewikkel!
Die gholfdagwenners was in die eerste plek Gerhard Pepler jr en Len Steyn met Gert Pepler sr en André-Neil Burger in die tweede plek en Daan Eloff en Hannes Botha in die derde plek.