Dis lekker om ’n Bossie te wees!

Skoolhoof Louwtjie Pretorius saam met Divan Gerber, Sport- en Bossieseun van die Jaar

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary se prestasietoekennings- prysuitdelingsfunksie is Donderdagaand 7 November by die skool gehou. Daar was geen moeite ontsien om die saal te omtower in ’n wêreld van Arabiese Nagte nie.

Die programleiers was Karin Meyers, Charlie Brandt en Jimmy du Plessis. Ds Cornel Viljoen het die verrigtinge met ’n inspirerende boodskap geopen en mnr Louwtjie Pretorius, skoolhoof, het die gaste verwelkom. Pretorius het gesê sukses begin by ’n positiewe denkpatroon met geloof dat die goeie sal seëvier en sukses sal volg. Hy het erkenning aan die ouers gegee vir hul toewyding en harde werk in die opvoeding van hulle kinders en die leerders geprys as fakkeldraers van Laerskool Bosveld Primary.

Leerders is beloon vir prestasies op verskeie gebiede en dit was duidelik dat Laerskool Bosveld Primary geen tekort aan talentvolle en toegewyde leerders het nie.

Corne de Swardt het ’n oorsig oor al die kultuuraktiwiteite gelewer en gesê dat die Bossies vanaf graad RR tot graad 7 hulself bewys het as sterre op kultuurgebied. Sy het daarna die oorhandiging waargeneem.

Charlie Brandt het ’n oorsig oor al die sportprestasies deur die jaar gegee en gesê dat elke seun of dogter wat die hoogste sport in sy of haar sportgebied bereik het, ongeag ouderdom, beloon word. Hy het daarna die trofeë oorhandig.

Die prestasietoekennings het daarna gevolg.

Na afloop van die prysuitdelings het Santjie Wolstenholme op pittige wyse die bedankings gedoen en Sonja van Deventer die afsluiting behartig.

Dit was duidelik dis lekker om ’n Bossie te wees.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.