Dit ís drinkbaar …

LEPHALALE — Lephalale se drinkwater is onlangs skoon en geskik vir menslike gebruik verklaar nadat AfriForum ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Akkrediteringstelsel (SANAS)-toets daarop laat doen het as deel van hulle blou-en-groendruppelprojek.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, het die toetse wat AfriForum vroeër vanjaar gedoen het gewys dat die drinkwater dalk E. coli kan bevat. “Ons het toe weer watermonsters geneem en na ’n SANAS-geakkrediteerde laboratorium gestuur om getoets te word.

Hierdie toetse het aangedui dat die water skoon is en minder as 1 E. coli en totale koliforme per 100 ml water bevat,” sê Grobbelaar. (AfriForum het vroeër vanjaar in ʼn mediavrystelling aangekondig dat die dorp se drinkwater E. Coli bevat en dus nie geskik is vir drinkwater nie. Mogol Pos het dit bevraagteken en op die voorblad van 26 Mei 2018 daaroor berig. Navraag is gedoen oor die tipe toetse wat gedoen is en of dit SANAS-geakkrediteerd was.)

Volgens Grobbelaar is die drinkwatertoetse gedoen by Ellisras-kliniek en by die Ellisras Provinsiale Hospitaal.

“AfriForum sal die water deurlopend toets om seker te maak dat dit geskik bly vir menslike gebruik,” sê Grobbelaar.

(Mens kan net hoop dat organisasies hulle voortaan sal vergewis van die feite voordat dit die wêreld ingestuur word. Soos ’n kenner tereg opgemerk het: “Die skade is reeds gedoen” — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.