Dit was worselicious!

LEPHALALE — Die NG Kerk Ellisras-Wes se eerste worsmaakkompetisie is Saterdag 4 Mei by die kerkgebou gehou en worsmakers het hulleself oortref met verruklike smake!

Die worswenners is Pat en Lettie van Rooyen en Tiaan en Pieter Nel (voor) saam met Wynand van Straten, Dewald Pretorius, ds Cornel (langs Lettie)

Volgens Karin Botha, sekretaresse by die kerkkantoor en een van die organiseerders, het die idee verlede jaar ontstaan toe hulle gewonder het wie se resep om te gebruik vir hulle een-ton-worsprojek. Elkeen het gedink sy of haar resep is die wenresep en daar het die idee ontstaan om dit in ʼn behoorlike kompetisie uit te sorteer.

Tyd vir proe! Wynand van Straten en Johan Botha kyk toe

Die saadjie was gesaai, ʼn komitee is aangestel en die kompetisie is beplan.

Wynand van Straten was die voorsitter van die komitee en hy het baie van die beplanning en uitvoering gedoen, maar ʼn paar mense agter die “ystergordyn” het ook hand bygesit.

Worsmakers het Saterdag bontgestaan met speserye, stoppers, derms en maalvleis en die eindresultaat was “worselicious”. Die wors is eers laat “rus” terwyl daar die Bulle se wedstryd gekyk is en daarna het almal heerlik by die braaivleisvure gekuier.

Spanne het ingeskryf en almal wat die geleentheid bygewoon het kon proe om ʼn wenner aan te wys. Daar is aan elke proewors ʼn nommer toegeken en die nommer van die wors wat vir jou die lekkerste was, was in ʼn boks gegooi.

Na afloop van die proesessie en die aankondiging van die wenners, kon almal weglê aan die heerlikste pap en sous saam met die wors van jou keuse.

Na die groot proe is Pat en Lettie van Rooyen en hul kleinseuns Tiaan en Pieter Nel as die wenners aangewys met André en Anita Stevens in die tweede, Bullet en Dorette Steyn die derde en Wynand van Blommenstein en Rudi Dercksen in die vierde plek.

Ds Cornel Viljoen, leraar van die gemeente, het almal bedank wat deelgeneem het en gesê hierdie was die eerste geleentheid van sy soort, maar dit gaan vir seker ʼn jaarlikse instelling word. Dis nou maar wors!  

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.