Ditsem DBV

LEPHALALE — Die bestuur, personeel en vrywilligers van die dierebeskermingsvereniging (DBV) van Lephalale het die naweek van 12 Augustus ‘n uitreik in Vaalwater en omgewing gehou en volgens Erika Tempel, bestuurslid, was dit besonder geslaagd. Die uitreik is gehou in samewerking met dr Renee van Rheede van Oudtshoorn en die CVSSA (Community Veterinary Services South Africa).
Erika sê dit het ‘n jaar se beplanning geverg om toestemming te kry van die veeartse in Vaalwater en die staatsveearts om ‘n massasterilisasie op voetsoolvlak in die Lesidenggemeenskap te doen.
Die DBV se werkers en vrywilligers, in samewerking met die CVSSA, het aanvanklik drie maande gelede verskeie uitbreidings in Lesideng besoek en van huis na huis gestap om die gemeenskap se diere te ontwurm en in te ent teen hondsdolheid.
Erika sê na heelwat logistieke uitdagings in terme van slaapplek en water het hulle by die Lesideng gemeenskapsaal ingetrek om hulle groot taak te begin. “Die kinders vanuit die gemeenskap was absolute sterre. Hulle het ná skool honde en katte aangedra vir sterilisasie” sê Erika.
Sy sê daar was ongelooflik baie babadiere wat oud genoeg was om te steriliseer en hulle is dankbaar daaroor dat hulle die siklus van voortplanting kon stop.
164 diere is suksesvol gesteriliseer tydens die uitreik na Lesideng. Erika sê volgens ‘n geskatte demografiese telling per huisgesin dat die geboorte van 10 998 000 diere oor ses jaar deur hierdie sterilisasies voorkom is. (Twee volwasse honde en hul nageslag produseer gemiddeld 67 000 babas oor ses jaar).
Die DBV Lephalale sê hulle is ongelooflik dankbaar teenoor dr Renee wat hierdie diens, en dit veral in haar persoonlike tyd, vrywillig aan die DBV beskikbaar stel. Erika sê indien die finansies daar was, kon hulle nóg soveel diere steriliseer, want die gemeenskap het hordes diere. Sy voeg wel by dat die meeste van die diere baie goed versorg is.
Hulle is egter reeds weer besig met fondsinsameling sodat hulle volgende jaar kan teruggaan na Lesideng en die vriendelike gemeenskap.
Hulle beplan ook om volgende jaar terug te gaan na Beauty om nog ‘n groter verskil te maak.
Die DBV het intussen ‘n vraghouer vanaf MPSJV as skenking ontvang. Hulle wil graag die vraghouer registreer sodat al die behoeftige diere in die omgewing gehelp kan word. Hulle onderhandel ook tans met ‘n myngroep wat volgende jaar ‘n katprojek saam met hulle wil loods.
Die DBV Lephalale se mikpunt vir 2018 is om aandag te gee aan die katpopulasie en die inteling van huiskatte met vaalboskatte.
Erika, namens die DBV, bedank weer eens die publiek vir hul volgehoue ondersteuning. “Sonder julle kon ons nie die deure van die DBV oophou nie”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.