Diva van die Bosveld

LEPHALALE — Marieta Eckard, lid van die VLU Ellisrastak, is onlangs by die VLU-Noord kongres vereer vir haar 60 jaar-lidmaatskap van dié organisasie. Tharina Rossel, ʼn jarelange vriendin, het die eer gehad om haar knopie vir haar aan te steek.

Marieta was ʼn jong dogter toe haar ouers na ʼn Bosveldplaas naby Ellisras trek waar haar pa met beeste geboer het.

Sy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool en studeer aan die Universiteit van Pretoria. In 1957 trou sy met Lu Eckard, ʼn tabakboer op die plaas Zandrivier waar sy vandag nog bly. Uit hul huwelik is drie seuns en twee dogters gebore en sy spog met sewe kleinkinders.

Op 1 Februarie 1958 oorreed tannie Martie Kruger Marieta om by die TVLU Ellisrastak aan te sluit. Hulle eerste vergaderings was gehou in die voerstoor van die Waterbergse Koöperatiewe Landbou Maatskappy (WKLM), vandag die NTK. Hulle het op voerbale gesit tydens demonstrasies wat onder andere deur tannie Tokkie Kraamwinkel op primusstofies aangebied is. Marieta het, danksy haar liewe moeder en tannie Martie, dadelik ʼn aanvoeling gehad vir gebottelde produkte en gebak.

Van tannie Martie het sy die kuns bemeester om maroelajellie, marmelade en waterbessiejellie te maak.

In die VLU Ellisrastak het Marieta deur die jare in verskeie poste gedien. In daardie jare het sy die notuleboek met die hand geskryf. In 1968 word daar vir die eerste keer ʼn Streekkonferensie in Ellisras aangebied, gehou in die Ellisras Hotel.

As takvoorsitter van VLU Ellisras het Marieta die heel eerste huisvlytskou gereël waaraan VLU-lede sowel as nie-VLU-lede kon deelneem. Om fondse in te samel vir die Ellisrastak doen sy spyseniering vir die DLU, YSKOR, die stadsraad en ander instansies. Marieta was deurgaans bedrywig met die reël van internasionale aande en sy het aan gebak- en gebottelkompetisies deelgeneem. Sy reël ook ʼn kursus in gebak deur Caroli de Koster. As streekvoorsitter van die Bosveldstreek het Marieta deelgeneem aan die ontbondelingsproses van die Transvaalse Vroue Landbou Unie in die destydse Noord Provinsie, nou Limpopo. Sy het al die VLU-takke in die Bosveldstreek besoek vanaf Baltimore in die Noorde tot Katjiepiering in Marble Hall en Wes tot in Northam. As Presidente van VLU Noord reël Marieta ʼn 4×4-toer deur die berge oos van Pietersburg tot in Tzaneen se teeplantasies en Magoebaskloof. So reël sy dan ook ʼn drie-dag-lange Somerskool op ʼn Wildsplaas naby Warmbad.

Marieta herskryf die Grootmaatresepte-boek van Waterberg TVLU en dit word uitgegee met Clover as borg. Sy het vir VLU-lede ʼn besoek gereël aan die ateljee van Danie de Jager by Hartbeespoortdam, wat daardie jaar die Kunstenaar van die Jaar was.

Marieta het SAVLU-kongresse bygewoon in Umhlanga Rocks, Vrystaat, Noord-Wes en Namibië. Marieta se gewilde bobotieresep is die enigste Suid-Afrikaanse resep wat in die resepteboek van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue geplaas is. Sy het kongresse van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue in Harare en Rustenburg bygewoon.

Bogenoemde is slegs ʼn paar van Marieta se VLU-hoogtepunte.

Ria Strydom, voorsitter van Bosveldstreek VLU sê: “Watter voorreg is dit vir ons almal in Bosveldstreek om te kan spog met ons eie Diva in ons midde. Sy het diep spore getrap en vandag nog luister ons elke maand na haar wenke en wyshede by die Ellisras VLU-byeenkomste. Jy is ʼn voorslagvrou met ʼn hart vir die VLU.”

Een van Marieta se lewensleuses is: “Moenie wag om iets te bereik nie, maar gryp die beste geleenthede aan en maak die beste daarvan.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.