DNS – dit ίs Monique

IMG-20160711-WA0010

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die polisie het Maandag bevestig dat die liggaam van ‘n vrou wat op 6 Mei 2016 naby die Deelkraalpad in ‘n stormwatersloot gevind is, inderdaad dié van Monique (Monica) Barnard is.
Monique het op 7 April vanjaar spoorloos verdwyn nadat sy en haar vriend, Morne Janse van Rensburg, stry gekry en sy in die vroeë oggendure uit hulle huis in Onverwacht geloop het. Sy is as vermis aangemeld en is nooit weer lewend gesien nie. Haar liggaam is presies ‘n maand later gevind, maar DNS-toetse moes eers bevestig dat dit wel Monique is.
Louise Loubser, Monique se ma, het Mogol Pos Vrydag geskakel en bevestig dat dit wel haar kind se liggaam is wat gevind is.
Louise het Maandag bekendgemaak dat ‘n roudiens vir Monique Vrydag 15 Julie om 09:30 by die NG Kerk Moreletapark in Pretoria gehou gaan word. “Almal wat belangstel is welkom om in ons laaste eerbetoon aan Monique deel te hê” het sy gesê.
Louise het aan Mogol Pos gesê dat sy dankbaar is om uiteindelik te kan afskeid neem, maar dat sy nooit sal vrede maak met die feit dat sy nie weet presies hoe haar kind dood is en wat sy beleef het tydens haar laaste oomblikke op aarde nie.
Daar is nog geen verdagtes in verband met Monique se dood in hegtenis geneem nie. Die polisie het Mogol Pos egter verseker dat die saak steeds ondersoek word.
Mogol Pos se innige simpatie en meelewing aan Louise en die res van die famiie met hierdie tragedie waarmee hulle reeds die afgelope paar maande saamleef. Mag julle berusting vind.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.