Doef-doef gedemp

LEPHALALE — Die nimmereindigende geraas vanaf die informele nedersetting Mahlakung, ook bekend as Plastic View, langs die Ellisras Provinsiale Hospitaal, het Sondagmiddag 29 Julie eensklaps verander in ʼn doodse stilte.

Dié indrukwekkende klanksisteem is gekonfiskeer

Die bure juig.

Volgens Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale Gemeenskapspolisiërings-forum (GPF) was inwoners die naweek van 27-29 Julie weer eens rasend van die geraas en hulle het soos altyd hul lot bekla op die Rusverstoring-WhatsApp-groep.

Eloff sê hy het die Lephalale SAPD Stasiebevelvoerder, kolonel Daniel Ramakgoakgoa, geskakel en hulp aangebied. Mogol Pos het in die uitgawe van 6 Julie 2018 berig dat die polisie nie kan optree teen iemand indien niemand ʼn formele klag lê nie. “Die probleem is, baie mense bel die polisiestasie en kla oor die rusverstoring, maar min mense is bereid om na die stasie te ry en ʼn formele klag te lê sodat daar ʼn saak geopen kan word,” sê Eloff.

Om 15:20 het ongeveer 18 GPF-lede en ses polisiebeamptes (insluitende kol Ramakgoakgoa) Mahlakung binnegegaan. Een shebeen is toegemaak en 20 kaste drank is gekonfiskeer. Hulle het ook ʼn kragopwekker en klanksisteem gekonfiskeer. Volgens Eloff was die eienaar van die shebeen aanvanklik nêrens te vinde nie, maar hulle het hom later in sy kamer gekry waar hy “geslaap” het – die deur van buite af gesluit.

Eloff sê niks verhoed die persoon om volgende naweek voort te gaan met sy musiek en drankverkope nie, maar as daar elke keer daadwerklik opgetree word, sal dit hom later baie kos om elke keer die drank te vervang en ʼn boete te betaal.

“As ons resultate wil hê moet ons optree. Moenie net die polisiestasie bel en sê jy kla oor rusverstoring nie – dit word in ʼn “voorvalleboek” opgeskryf, maar dit beteken nie daar word ʼn klag gelê wat ondersoek moet word nie.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Polisiewoordvoerder, het die verdagte ʼn skulderkenningsboete van R5 000 betaal wat die klagtes van rusverstoring en die verkoop van drank sonder ʼn dranklisensie insluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.