Dokter, die “dieredokter”, ernstig beseer

LEPHALALE — Die 32-jarige Elandi Dokter, ʼn “dieredokter” van Polokwane, is Sondagmiddag 18 Oktober ernstig beseer nadat sy vermoedelik beheer oor haar voertuig verloor het. Dokter het vroeër in Lephalale gewoon en ook plaaslik gematrikuleer.

Volgens die polisie in Lephalale het die voorval om 15:00 op die R33 meer as 40 km buite Lephalale gebeur. Die wit Ford Eco Sport waarin sy gery het, is volgens inligting afgeskryf nadat dit verskeie kere gerol het. Die oorsaak van die voorval was teen druktyd onbekend.

Volgens Dokter se pa, Braam Geldenhuys wat in Lephalale woon, het sy die naweek in Lephalale gekuier en sy was op pad terug na Polokwane via Modimolle toe die ongeluk gebeur het.

Sy was ná die ongeluk per ambulans na Mediclinic Lephalale geneem waarna sy later die aand per helikopter oorgeplaas is na die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria.

Sy was teen druktyd steeds in die waakeenheid van die Life Wilgers-hospitaal waar sy onder sedasie gehou word as gevolg van swelling op haar brein. Sy het veelvuldige beenbreuke opgedoen, veral aan haar bolyf, en het reeds ʼn operasie aan haar voorarm ondergaan. Haar toestand was ernstig, maar bestendig.

Die voorval het in die Dorset-polisiëringsgebied gebeur en die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.