Dominee en die “rock bands”

LEPHALALE — Ds Cornel Viljoen, sy vrou Alet en hulle twee kinders, Pieter en Francois, is onlangs in die NG Kerk Ellisras-Wes ontvang. Sy inhuldiging as predikant was op 2 September.

Die “rock”-dominee, Cornel, en sy gesin

Ds Cornel en Alet is beide in Pretoria gebore. Hulle liefde vir mekaar het begin blom in graad 9 en toe “kys” hulle sommer.

Ds Cornel het in 2008 Teologie aan Tukkies afstudeer en sy eerste bediening was in Standerton-Wes waarna Doornpoort in Pretoria volg.

Hy verruil die Noorde van Suid-Afrika vir die Suide en word in Houtbaai in die Wes-Kaap bevestig. Nou is hy en sy gesin terug in die Noorde in die gasvrye Bosveld.

Terwyl Cornel studeer het, het hy by ʼn “rock band” betrokke geraak, maar dit het nie daar gestop nie en hy is tans by twee orkeste betrokke, naamlik Beyond the Gates en Enovelle.

In Beyond the Gates, die orkes waar Cornel ook sing, se simboliek is die verlange na wat agter die hekke is en dat God ons juis daarheen wil vat. Maar, die anderkant kan jou ook gevange hou en God wil jou daarvan ook bevry. Daarom kan elkeen uit eie perspektief die simboliek daarvan vasvang.

Enovelle is meer rustig, akoesties en jazz-georiënteerd en hy bespeel slegs instrumente soos baskitaar, kontrabas/basviool en kitaar. Hy is juis tans besig om sy talentvolle vrou ook te leer om basviool te speel.

Nou hoe versoen ʼn mens ʼn “rock band” met ʼn preekstoel?

Maklik, sê ds Cornel. “Dit is ʼn geleentheid wat God op my pad gestuur het. Musiek praat anders met mense en vul woorde aan en kan uitstekend as instrument in die bediening gebruik word. My gunsteling vers in die Bybel is Psalm 103 vers 1 waar daar staan ‘met alles wat ek het wil ek die Here se naam loof.’”

Dit is dus duidelik dat musiek én woorde die taal is waarmee ds Cornel sy bediening uitleef.

Sy boodskap aan die gemeenskap is dat die NG Ellisras-Wes ʼn plek wil wees waar mense liefde en aanvaarding sal ervaar en waar hulle met vrymoedigheid tuis moet voel sonder enige beperkings, “en net die Here kan loof”. Die kerk se deure staan wyd oop vir die gemeenskap en hy nooi almal om hom te skakel by 014 763 2691.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.