Doppers-gemeenskapsfees

LEPHALALE — Die Gereformeerde Kerk Magol het Saterdag 3 Junie hul jaarlikse Dopperfees by die kerkterrein gehou en veral die kinders het dit baie geniet.
‘n 1900-perdekoets met die blinkste swart perd, Seun, het die besoekers om die beurt vir ‘n perderit gevat. Seun se stert is met haarsproei opgetooi en sy hoewe het swart politoer gekry vir dié spesiale geleentheid.
Seun se eienaar, Hennie van der Walt (bygestaan deur sy kleindogter, Giuditta Riccio) sê sy perd het beter maniere as party mense en dié groot waarheid het met die verloop van die dag al hoe duideliker geword. Die gesinne het behoorlik tou gestaan vir ‘n beurt!
Die knortjor en die skyfskiet het groot aftrek gekry. Een outjie het vir dertig rondtes vooruitbetaal en vir sy ouers gesê hulle kan maar ry, hy sal laat weet wanneer hulle hom kan kom haal! In die skyfskiet junior-afdeling wen Juan Farrel (13) ‘n rooibok en in die senior-afdeling skop Steyn van Staden stof in die ouer manne se oë. As wenner kan hy ‘n blouwildebees skiet vir net R15!
Altin du Plessis (11), skiet vir hom ‘n rooibok los met veerpyltjies.  Die groot verskeidenheid lekker eetgoed het nie teleurgestel nie – van pap-en-kaiings tot pannekoek en melktert, kerrie-en-rys, boerewors, poeding en vele meer.
Die handwerk het ook groot aftrek gekry.
Fransa de Beer, predikantsvrou, het na afloop van nog ‘n suksesvolle Dopperfees gesê: “na alles is die harde werk, energie en tyd en die ondersteuning en geld spandeer tog vir die kerk en die uitbreiding van Sy koninkryk”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.