Douw Oosthuizen — KANSA en genade van Bo

Douw en Debbie by hulle huis in Onverwacht

LEPHALALE — Douw Oosthuizen (61) het ongeveer 20 jaar gelede uitgevind dat hy velkanker het. Dié kranige visserman (wat voorheen gereeld in Mogol Pos gepryk het met die grootste karpvangs) wéét egter vandag dat die son nie jou vriend is nie.

Douw en sy vrou, Debbie, het in Springs gewoon toe hy vir die eerste keer met velkanker gediagnoseer is.

Die eerste gewas in die waai van sy been is by Steve Biko Hospitaal verwyder, waarna hulle Lephalale toe getrek het waar hulle reeds die afgelope tien jaar woon.

Nadat die gewas in die waai van sy been verwyder is, het groeisels op sy arms, bene en rug gevolg. Douw verduidelik dat al die kankergroeisels begin as ʼn klein seerplekkie wat jeuk, daarna verander die grootte en ʼn rofie vorm.

Dr Attie Bouwer, wat voorheen in Lephalale gepraktiseer het, het destyds van die kankergroeisels op sy arms verwyder.

Die plek op sy rug en onder sy oog het hom minstens vyf jaar gelede begin pla en hulle is terug Steve Biko toe, waar ʼn gewas op sy rug en arm verwyder is, maar die dokters het gesê hy sal plastiese snykunde op sy oog moet kry en op daardie stadium was hulle teaters vol. Hulle sou hom nader aan die einde van die jaar laat weet wanneer daar plek in die teater is. Dit is vier jaar gelede en hy wag steeds om te hoor wanneer dit sy beurt is.

“Ons het moed opgegee, maar danksy KANSA is ons nou baie positief,” sê hulle.

Douw was ʼn tyd gelede saam met ʼn vriend na die pluimbal by Mogolklub toe ʼn vriendin daar vir hom sê hy moet dadelik werk maak van die plek onder sy oog. Die vriendin het Riana Bronkhorst, afdelingskoördineerder: volhoubaarheid van KANSA in Limpopo, geskakel en Riana het vir Douw en Debbie gaan kuier.

“Van daar af het dinge vinnig gebeur,” sê Douw.

Dr Mark Röscher, ʼn dermatoloog wat by Triomfkliniek in Pretoria-Wes werk en in vennootskap met KANSA, het hulle drie maande later gratis gesien en foto’s van die groeisels geneem. Die foto’s is na Wilna van den Heever van Waterberg KANSA in Modimolle gestuur, sy en dr Röscher het daaroor gepraat en die prosedure is bespreek.

Na twee maande, in Maart vanjaar, is Douw in die Triomfkliniek opgeneem en die groot groeisel op sy rug is verwyder.

Douw en Debbie is baie dankbaar teenoor Riana wat hulle die eerste keer na die Triomfkliniek vergesel en hulle deurentyd ondersteun het.

Dr Röscher het toe vir hulle die dermatoloog dr Pieter du Plessis se nommer gegee by die Club Surgical Centre in Brooklyn in Pretoria om die groeisel onder sy oog te verwyder. Dr Du Plessis is ook in vennootskap met KANSA.

Nadat die groeisel onder sy oog verwyder is, is dit vir toetse gestuur.

Douw sê hy het twee ure gewag vir die uitslae, dan was hy weer terug teater toe en dan moes hy weer wag. So was hy drie kere terug teater toe totdat alles skoon getoets het. Die kanker het egter wel na die been onder sy oog versprei en die been moet vervang word. As dit afgehandel is, gaan ʼn groeisel op sy kop verwyder word en as al die groeisels verwyder is sal dit beteken Douw was 18 keer onder die mes! Met KANSA se hulp.

Hy het sover net lokale verdowing gekry en sê die seerste van alles was die vel wat van sy bobeen afgehaal is om op sy wang oor te plant.

Douw en Debbie praat met baie groot lof van KANSA en die wonderlike werk wat hulle doen.
 “Dit is die grootste wonderwerk dat al die spesialisbesoeke, prosedures en opvolgbesoeke vir ons gratis gedoen was en nog gedoen gaan word,” sê die twee Oosthuizens.

Douw vang sy hele lewe lank nog vis en is ’n trokbestuurder – al die ure in die felle bosveldson sonder beskerming het hom ingehaal.

Sy boodskap is duidelik – gebruik ʼn baie goeie sonskerm en moet nooit jou huis daarsonder verlaat nie.

“KANSA en die genade van Bo het my lewe gered,” sê Douw.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.