Dr Mariëtte reg vir uitdaging

LEPHALALE — Dr Mariëtte Emslie is amptelik vanaf 1 Januarie 2020 Mediclinic Lephalale se hospitaalbestuurder. Alhoewel sy nog betrokke sal wees by Lephalale Beroepsgesondheid, gaan sy nie meer by haar kamers in Booysenstraat 2 praktiseer nie. Sy behou slegs een kantoor vir eie gebruik.

Mogol Pos het by dié geliefde dokter gaan uitvind wat tot die loopbaanskuif gelei het.

Dr Mariëtte se praktyk het met die jare geleidelik verander sodat sy later begin fokus het op haar passie – voorgeboorte en kraam. Sy sê sy het agtergekom die meeste vroue verkies ’n vrouedokter as hulle ginekologiese probleme het en sy het haar daarop begin toespits en kursusse gedoen om haarself beter in dié rigting te bekwaam. “Dit was altyd vir my besonders om ’n nuwe mensie die wêreld te help inbring.”

Dr Mariette sê sy gaan haar pasiënte baie mis. “Mens bou ’n spesiale band op met jou pasiënte. Party van hulle se kinders het al kinders!”

die aanval op die Emslies op hulle plaas Waterval in September 2017 het dr Mariette se lewe ingrypend verander. Behalwe dat sy haar man, dr Werner, aan die dood afgestaan het, is sy geskiet en kan sy vandag nie sonder hulp loop nie. Die impak daarvan is dat sy fisies nie meer haar werk (en na-ure werk) op dieselfde vlak as voorheen kan doen nie. “Dis moeilik om na ure uit te gaan en sekere prosedures en operasies kan mens nie doen terwyl jy in ’n rolstoel sit nie”.

Sy sê die feit dat sy na die voorval nie meer regtig kon opereer nie het bygedra tot haar besluit om haar werk as algemene praktisyn halt te roep. “Kraam en alles wat daarmee saamgaan was my passie. Nou word dit ’n risiko,” verduidelik sy.

Nadat Mediclinic vir haar gevra het of sy sou belangstel in die pos van hospitaalbestuurder en omdat sy voel dat die hospitaal ’n groter rol in die gemeenskap kan speel, het sy besluit om die uitdaging te aanvaar.

“Ek voel daar is ruimte vir verbetering wat betref die kraam-afdeling se fasiliteite. Ek sou ook graag wou sien dat daar meer permanente spesialiste en gespesialiseerde dienste soos byvoorbeeld skanderings en mammogramme en selfs ’n neonatale eenheid by Mediclinic Lephalale moet wees. Ek wil hê mense moet die vrymoedigheid hê om die plaaslike hospitaal te gebruik en nie te voel hulle moet altyd ‘voorwêreld’ toe nie.

“Ek sien daarna uit om nouer met Mediclinic Lephalale se personeel saam te werk en ook om self nuwe bestuursvaardighede aan te leer.

“Mediclinic is passsievol oor hulle mense en pasiënte. Ons wil graag hê dat die pasiënte se ervaring van die hospitaal meer positief moet wees. Mense moet praat van ‘ons’ hospitaal en moet vertroue in die hospitaal en personeel hê,” sê sy.

Benewens verskeie ander verantwoordelikhede sal haar hooftaak wees om te sorg vir koördinasie en samewerking tussen die verskillende afdelings van die hospitaal sodat die pasiëntsorg uitstekend is.

Haar boodskap aan die gemeenskap is: “Maak Mediclinic Lephalale julle eie. Hoe meer die gemeenskap die hospitaal ondersteun, hoe makliker sal ons ekstra dienste kan bekostig en hoe beter sal die hospitaal groei.

Aan haar personeel wat sy agterlaat: “Julle is elkeen baie spesiaal en ’n groot deel van my lewe. Ek gaan julle nog baie sien – net op ’n ander vlak.

Dr Patric Shibambu, ’n pediater, het Maandag 11 November reeds begin om pasiënte by dr Mariette se kamers. (Lees die berig op die agterblad). Dr Mariette se laaste dag by die praktyk sal 13 Desember 2019 wees.

(Mogol Pos wens haar alle sterkte en seën toe met die nuwe uitdaging – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.