Dr. Susan vir KANSA

Dr. Susan is die nuwe gemeenskaps-mobiliseerder vir KANSA Lephalale
Dr. Susan is die nuwe gemeenskaps-mobiliseerder vir KANSA Lephalale

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dr. Susan Rothmann Lyons is die nuwe KANSA gemeenskaps-mobiliseerder in Lephalale.
Dr. Susan sê sy was aanvanklik nie baie opgewonde om Lephalale toe te kom nie, want sy was goed gevestig in Randburg en haar pasiënte (sy is ook onder andere ‘n traumatoloog) het haar nodig gehad. Sy hou boonop nie van verandering nie en haar wortels was stewig gevestig. Haar man is drie jaar gelede na Medupi oorgeplaas en sy kon nie verstaan waarom sy die skuif moes maak nie. “Ons was net twee weke hier toe kry my man een oggend ‘n hartaanval en daardie oggend het ek besef waarom ek saam met hom na Lephalale moes verhuis, want as ek nie daar was nie, was hy dalk vandag nie meer hier nie” sê sy.
Dit was eers ná die trauma dat sy mense van nader leer ken het. Hulle het intussen weer twee keer getrek maar is nou in Lephalale om te bly. Toe dr. Susan van die vakante KANSA-pos lees, het sy dadelik aansoek gedoen en sy is aangestel. Haar nuwe kantoor is in Pheasantstraat 7, Onverwacht.
Haar rol as KANSA gemeenskapsmobiliseerder is hoofsaaklik om fondsinsamelingsgeleenthede te organiseer en te bestuur. En sy het baie planne.
Dagboek solank die volgende datums van geleenthede waar fondse vir KANSA ingesamel word:
27 Mei – Tekkie Tax; 30 April – gholfdag te Swartklip gholfbaan, 7 Mei – Skiet-skoot-vir-KANSA; 5 Junie – gospeldag by SrixZone; 11 Junie – CUPPA oggendtee by Lephalale Mall; vanaf 25 Junie vir die duur van die skoolvakansie aktiwiteite by Lephalale Mall vir kinders; 5 Augustus – Neon night walk by die Mogolklub. Tydens die geleentheid kan mense stalletjies vir R100 per stalletjie oprig.
“Dit is ‘n aand vir entrepreneurs waartydens hulle die wins kan huis toe neem. Die R100 per stalletjie gaan vir KANSA” sê sy.
Dit sluit ook ‘n 5 km stap met “glow in the dark” items in wat om 18:00 gaan begin. Die inskrywingsgeld vir die stap beloop R20.
“Ons het besluit dat die geld wat die entrepreneurs tydens die geleentheid maak vir hulle eie sak moet wees omdat mens altyd moet GEE vir KANSA – ons wil graag iets terugploeg” aldus dr. Susan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.