Drinkbaar?

LEPHALALE — Afriforum het onlangs hulle bloudruppelverslag oor Limpopo se drinkwater vrygestel waarin gesê word dat Lephalale se drinkwater nie veilig is om te drink nie. Volgens die verslag is agt eenhede E.Coli per 100 ml water opgespoor.

Volgens Afriforum se distrikskoördineerder in Limpopo, Jaco Grobbelaar, is dié agt eenhede in verlede jaar se toets opgespoor. In vanjaar se voorlopige toets (April 2018) kon E.coli egter nie bepaal word nie, omdat dit, volgens kenners, nie volgens die regte prosedures en standaarde uitgevoer is nie. Die areas waar die water getoets is, is by ʼn kraan in ʼn woonhuis in Onverwacht, by Ellisras Provinsiale Hospitaal en Ellisras-kliniek.

Ons het nog nie die SANAS-geakkrediteerde toetse gedoen nie,” het Grobbelaar vir Mogol Pos gesê.

Volgens Grobbelaar het hulle die geseëlde bottels met water wat verder getoets moet word intussen ontvang en die toetse sal binne die volgende maand gedoen word. Hy sê hulle het wel die Lephalale Munisipaliteit gewaarsku dat die voorlopige toetse aangedui het dat die drinkwater besoedel is.

Die nuus dat die drinkwater nie skoon is nie, het baie inwoners geskok, aangesien die drinkwater al vir jare met die hulp van Exxaro gesuiwer word. Die standaardprosedure is dat drinkwatermonsters op ʼn maandelikse basis geneem en getoets word deur ʼn onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratorium. Die water wat deur Exxaro aan die munisipaliteit oorgegee word, toets heeltemal skoon volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) 241 vir drinkwaterkwaliteit en daar behoort geen kommer te wees oor die veiligheid daarvan nie.

Die monsterneming van die water moet in baie spesifieke higiëniese toestande gedoen word. Die kraan moet byvoorbeeld “gebrand” word om seker te maak alle bakterieë is dood voordat die watermonster geneem word in ʼn gesteriliseerde bottel om te verhoed dat eksterne besmetting plaasvind. As daar nie aan die spesifieke standaarde voldoen word nie, kan dit aanleiding gee tot gevolgtrekkings dat die water nie veilig is vir menslike gebruik nie.

ʼn Ander moontlikheid van drinkwaterbesoedeling is waar inwoners dalk ʼn koppeling het waar die huishouding se gesuiwerde rioolwater (vir besproeiing) en drinkwater nie behoorlik geskei word nie.

Grobbelaar het ooreengekom om die uitslae van die SANAS-geakkrediteerde toetse, sodra dit beskikbaar is, aan Mogol Pos beskikbaar te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.