Droogte is werklikheid

Leoni Kruger
LEPHALALE — “Die droogte wat ons tans ervaar gaan nie binne ‘n week uitgesorteer word nie. As die gras droog word en dit word gevreet gaan 60% van die wortels dood. Dit beteken daar is die volgende jaar net 40% wortels. Al reën dit hoé goed vanjaar, gaan die veld nie herstel nie” sê Francois van den Berg, voorsitter van die Mokolo Watergebruikersvereniging (WGV).
Van den Berg sê veral die grond wat oorbewei is het nie ‘n kans om vinnig te herstel nie. ‘n Reënbui of twee kan wel die vinniggroeiende grasse laat herstel, maar die polgrasse het deurdringende reën nodig asook opvolgreën.
Hy sê grasvreters gaan aan die kortste end trek.
Die Mokolodam is tans 67% vol en volgens hom is dit die laagste wat dit in ‘n hele paar jaar was. “Dit was vanaf 1995 nog nooit so droog soos vanjaar nie” sê hy. Daar gaan wel binnekort 4 miljoen mᵌ water oor ‘n periode losgemaak word, maar vir elke miljoen mᵌ water wat losgemaak word, sak die damvlak met een present.
Volgens Van den Berg is die vooruitsigte vir reën nie vreeslik positief nie. Hy reken dit gaan laat vanjaar eers behoorlik begin reën, waarskynlik in Desember en Januarie of selfs eers in Februarie, maar dis baie onwaarskynlik dat die reënvalpersentasie gaan raak aan die gemiddelde reënval vir die seisoen.
Hy sê as daar nie ‘n goeie reënseisoen kom nie, gaan die damvlak teen April 2017 onder 50% wees en dan kan GEEN water losgelaat word nie. Daar sal dus nie water vir besproeiing beskikbaar wees nie.
Sy raad aan wildboere is om hulle diere so gou moontlik af te haal en om hulle weiding te begin bestuur. “Kampe moet rus vir ten minste drie jaar en waak teen oorbeweiding” sê hy.
Hy sê ten slotte dat boere nie gunste en gawes van die departement van landbou af moet verwag nie. “Die regering gaan geen subsidies gee nie en droogtehulp is ‘n druppel in die emmer”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.