Drotskie-roof

Leoni Kruger

TOM BURKE — ‘n Saak van huisbraak en diefstal is geopen nadat drie verdagtes vermoedelik by Francois en Irmi Drotskie se huis op die plaas Speculatie ‘n venster gebreek, toegang tot die huis gekry en van hulle besittings gesteel het. 

Lede van SAPS Lephalale Cluster se speur-taakspan, Lephalale K9 en lede van die Heritage Protection Group (HPG) het ‘n reuse soektog aan die gang gesit om die verdagtes vas te trek.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPS moes die voorval tussen Saterdag 8 Julie en Sondag 9 Julie plaasgevind het terwyl die Drotskies nie tuis wat nie. Die verdagtes het ‘n Isuzu dubbelkajuitbakkie, registrasienommer CFH 978 L, vier plasma TV’s, sowat $40 en gewere gebuit en met die Isuzu op die vlug geslaan. Mokoena sê die verdagtes het ‘n muur- en ‘n staalkluis oopgesny om die geld en die wapens in die hande te kry. Vier van die jaggewere wat in die kluis was is op ‘n bed in een van die kamers gekry nadat die verdagtes weg was. 

Die Isuzu-bakkie is ongeveer 10 km van die toneel op ‘n verlate deel van die pad opgespoor en al vier bande was pap. Die vier TV’s was steeds agter op die bakkie, maar die geld en die wapens was weg. Mokoena sê die polisie het rede om te vermoed dat die verdagtes voorheen op die plaas gewerk het, want van hulle klere en skoene is op die bakkie gekry.

Mogol Pos het Woensdagoggend 12 Julie met Sakkie Louwrens van HPG gepraat en hy het bevestig dat die verdagtes Zimbabwiese burgers is wat voorheen op die plaas gewerk het. Die laaste spore van die verdagtes is in die omgewing van Seleka gekry. Teen druktyd was die verdagtes steeds op vrye voet. Die ondersoek duur voort.

Die Provinsiale Polisiekommissaris, luitenant-generaal Nneke Ledwaba bedank almal wat betrokke was in die voorval vir hulle vinnige reaksie en dat daar van die gesteelde goedere teruggekry is. Hy moedig grondeienaars aan om die korrekte prosedures te volg wanneer werkers op plase aangestel word. “Dring aan op behoorlike identifikasie voordat ‘n werker aangestel word” sê hy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.