Drs Jos Coetsee en Lúmari Joubert — sáám vir beter diens

Die gedugte span in die spreekkamer is v.l.n.r: Helené Powell (Rekeninge), dr Lúmari Joubert, dr Jos Coetsee en voor: Ina van Schalkwyk (Ontvangs)

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dr Lúmari Joubert het onlangs as mede-praktisyn aangesluit by dr Jos Coetsee se praktyk by Mediclini Lephalale se konsultasieblok, kamer G02.
Dr Joubert is geen onbekende in Lephalale nie, sy het in 2007 gematrikuleer aan die Hoërskool Ellisras en sy het verlede jaar haar gemeenskapsdiensjaar gedoen by Ellisras Provinsiale Hospitaal. Hierdie geleentheid om deel van ‘n gevestigde praktyk te wees, kom dus vir haar op presies die regte tyd.
Dr Coetsee sê dr Joubert se toetrede tot sy praktyk maak dit nou vir hulle moontlik om hulle spreekure te verleng, hulle kan om die beurt Saterdae-oggende spreek en Sondae op roep wees vir noodgevalle. Albei dokters gaan soggens by die praktyk beskikbaar wees, maar net dr Joubert gaan in die middae beskikbaar wees.
Dr Joubert sê op haar beurt die gemeenskap kan verseker wees daarvan dat hulle deure oop is en dat hulle niemand sal wegwys in geval van ‘n krisis nie. “Ons sal almal na die beste van ons vermoë probeer help” sê sy.
Dr Joubert sê sy het ‘n passie vir Pediatrie en as sy die geleentheid kry speel sy graag ‘n potjie gholf of muurbal. En soos dit enige Bosvelder betaam, hou sy natuurlik van braai.
Dr Joubert is ongetroud, maar ongelukkig vir die enkellopende manne, is sy in ‘n verhouding.
Die spreekure vir die praktyk is voortaan op weeksdae van 08:00 tot 18:00, Saterdae van 11:00 tot 13:00 en Sondae van 11:00 tot 12:00 vir noodgevalle.
Skakel die praktyk by 014 763 2711 of 079 606 3588 vir ‘n afspraak. Vir na-ure skakel dr Coetsee by 082 437 3899 of dr Joubert by 072 478 4863.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.